Internasionale Markte – Markte flikker op na verwoesting van Maart

Beleggers het in April oënskynlik die impak van inperking in verskeie lande wêreldwyd afgeskud en indrukwekkend herstel ná die dramatiese dalings wat in Maart aangeteken is, aangedryf deur steunpa-kette deur sentrale banke. Hoewel verskeie markte in die VSA goed vertoon het in April, het een van die beste maande in dekades teen die einde van die maand stoom verloor ná bestedingsyfers en ook werk-loosheidsyfers die impak van COVID-19 onderstreep het. Die lomp hantering van die pandemie deur die Trump administrasie (sterftes het van 9 in Maart tot 67 682 op 3 Mei toegeneem) het daartoe bygedra dat die sterftesyfers vir die VSA nou die hoogste ter wêreld is. Aandeelpryse het stewige stygings aangeteken sedert die laagtepunt on 23 Maart, toe die Amerikaanse Federale Reserweraad (Fed) aangekondig het dat alles moontlik gedoen sal word om die ekonomie te red.

Die Dow Jones het April maand op maand 11.1% hoër gesluit (-14.7% jaar tot datum) – die hoogste persen-tasiestyging in een maand sedert 1987. Die S&P 500 het 12.7% hoër gesluit teenoor Maart (-9.9% jaar tot datum), terwyl die Nasdaq met 15.4% gestyg het (-0.9% jaar tot datum) – die beste vertoning sedert 2000. Die sogenaamde FAANG maatskappye (Facebook, Amazon, Apple, Netflix en Alphabet) was weereens van die beste vertoners danksy sterk vertonings vir maatskappye wat aanlynverkope doen.

AMERIKAANSE EKONOMIE VERSWAK

Die beperkings op ekonomiese aktiwiteit wat in Amerika in werking gestel is, het die Amerikaanse BBP negatief beïnvloed en verskillende ekonomiese aanwysers het agteruitgegaan. Voorlopige syfers vir die BBP toon dat die Amerikaanse ekonomie in die eerste kwartaal met 4.8% gekrimp het teenoor die vorige kwartaal, wat die langste tydperk van groei in die geskiedenis tot ʼn einde gebring het. Persoonlike besteding aan dienste het kwartaal op kwartaal met 10.2% gedaal, die skerpste daling ooit danksy dalings van 30% in die besteding aan voedseldienste en akkommodasie. Amerikaanse indiensneming lyk ook kommerwekkend en 20 miljoen Amerikaanse werkers het in April vir werkloosheid-steun aansoek gedoen (10 miljoen in Maart).

EUROPESE MARKTE HOËR IN APRIL

Die FTSE 100 in die VK het in April met 4.0% gestyg (-21.8% jaar tot datum). Ander Europese markte het ook verbeter. Ná dubbelsyferdalings in Maart het die DAX in Duitsland April 9.3% hoër gesluit (-18.0% jaar tot datum), terwyl die CAC in Frankryk maand op maand met 4% gestyg het (-23.5% jaar tot datum). Soos alge-meen verwag is, het die Europese Sentrale Bank rentekoerse onveranderd gehou en nie die bedrag beskikbaar (€750 miljard) vir die aankope van nooditems vir die pandemie verhoog nie. Die Europese ekonomie het in die eerste kwartaal die ergste inkrimping op rekord aangeteken. Voorlopige data toon dat die BBP van Europa in die eerste kwartaal 3.5% laer as is as in die vorige kwartaal.

In Asië het die Shanghai Saamgestelde Indeks in China maand op maand 4.0% hoër gesluit (-6.2% jaar tot da-tum) terwyl die Hang Seng in Hong Kong 4.4% beter vertoon het vir die maand (-12.6% jaar tot datum). Produksie in fabrieke het in April in verskeie lande in Asië skerp gedaal, tekens dat die wêreld se besigtse vervaardigingsgebied swakker vaar. In Japan het die Nikkei maand op maand met 6.7% gestyg (-14.6% jaar tot da-tum).

Plaaslike Markte – JSE herstel na dalings in Maart

Die JSE het internasionale neigings gevolg en in April indrukwekkende stygings getoon ná die dalings in aandeelpryse wat in Maart aangeteken is. Die FTSE JSE Indeks van Alle Aandele het in April met 13.1% tenoor Maart gestyg (jaar tot datum -11.8%), danksy goeie vertonings deur die mark swaargewigte en ook hulpbronaandele. Al tien die grootste maatskappye wat op die JSE genoteer is het hoër gesluit – Anglo Amer-ican Platinum (Amplats; +29.5%), Glencore (+24.8%), British American Tobacco (BAT: +18.3% MoM), BHP Group (+14.8% MoM), Naspers (+13.5%), Prosus (+11.5%), Anglo American (+8.2%) Anheuser Busch InBev (+5.7%), en FirstRand (+0.5%). Die Resi-10 het besonder goed gevaar met ‘n styging van 22.6% vir die maand (jaar tot datum -9.2%) danksy goeie vertonings deur die hulpbron-aandele. Die Indi-25 het die maand 9.6% hoër gesluit (jaar tot datum +2.3%) terwyl bank en finansiële aandele – wat besonder swaar getref is in Maart – ook verbeter het en die Fini-15 het April 8.8% hoër gesluit (-34.9% jaar tot datum).

Die aandeelpryse van goudmynmaatskappye het in April met gemiddeld 50% gestyg, die pryse van platina-aandele 38% maand op maand en die olieprys 11.1% maand op maand. Dit het veral die hulpbronne sektor van die beurs gesteun. Die laer olieprys – danksy ʼn drastiese daling in vraag na olie en ooraanbod deur verskaffers, veral Rusland and Saoedi-Arabië – het die aandeelprys van Sasol onder druk geplaas en dit het in Maart 80.1% gedaal. Die maatskappy het in April baie beter gevaar en die maand as die beste vertoner afgesluit met ʼn styging van 136.3%, hoewel van ʼn baie lae basis.

Ascendis Health (+81.0% maand op maand) was die tweede beste vertoner. Die maatskappy se aandeelprys het vroeg in April gestyg nadat bekend gemaak is dat een van sy produkte, chlorokien, deur die Amerikaanse Voedsel- en Medisyne-Administrasie goedgekeur is vir beperkte behandeling van noodgevalle wat COVID-19 verwant is; hoewel dit nie as ʼn middel bevorder word wat die virus kan genees nie. Famous Brands was in die derde plek en dié maatskappy se aandeelprys het met 78.3% maand op maand gestyg. Die maatskappy het in April bekend gemaak dit gaan nie meer sy sukkelende Gourmet Burger King restaurante in die VK finansier nie.

Landboubedryf maatskappy Zeder Investments was die swakste vertoner vir April met ʼn daling van 55.7% maand op maand. Zeder se jaarsyfers is bekend gemaak wat getoon het dat sy inkomste afgeneem het teenoor die vorige jaar. Belegging-houermaatskappy Invicta was in die tweede plek en sy aandeelprys was 27.2% laer as in Maart. PPC Ltd was in die derde plek met ʼn daling van 26.5%, maand op maand.

INFLASIE LAER EN SARB VERLAAG RENTEKOERS

Die inflasiekoers vir Maart, soos in April aangekondig, was effens laer op 4.1%; die eerste keer sedert Novem-ber verlede jaar wat ʼn laer koers bekend gemaak is. Die koers het in Februarie op 4.6% gestaan. Die handelsba-lans vir Maart was ʼn oorskot van R24.3 miljard teenoor R13.7 miljard in Februarie. Uitvoer was 8.5% hoër op R118.5 miljard terwyl invoer met 1.3% gedaal het tot R94.2 miljard. Die SA Reserwebank se monetêre beleidskomitee het nog ʼn rentekoersverlaging aangekondig, dit is nou op ʼn rekord laagtepunt van 4.25%. Die rand het in April verskeie kere verby R19 teenoor die dollar verswak maar die maand uiteindelik 3.7% swakker afgesluit op R18.81/$1. Vir die jaar tot datum is die rand 32% swakker teenoor die dollar.

RESESSIE OP PAD

Die Minister van Finansies, Tito Mboweni, het in April in ʼn toespraak gesê die COVID-19 pandemie gaan die SA ekonomie in ʼn ernstige resessie dompel. Hy het ook bekend gemaak dat die nasionale begroting ingrypend verander sal word om seker te maak dat die Departement van Gesondheid voldoende hulpbronne het om die pandemie te beveg. News24 het berig dat die Tesourie met onderhandelinge besig is met die Wêreldbank, die Nuwe Ontwikkelingsbank, en die Afrika Ontwikkelingsbank rakende moontlike lenings om COVID-19 projekte te steun. SA het op 1 Mei inperkingsreels effens na vlak 4 gewysig, wat meer bedrywe toelaat om sake te doen, ná vyf weke van streng inperking.

SKOKKENDE MAAND VIR VOERTUIGBEDRYF

Slegs 574 voertuie is in April verkoop, ʼn skokkende 98.4% laer as April 2019; danksy die inperking om die ver-spreiding van COVID-19 te bekamp. Volgens syfers wat deur die Nasionale Vereniging van Voertuigvervaar-digers van SA (Naamsa) bekend gemaak is, is 36 787 voertuie in dieselfde maand verlede jaar verkoop. Die meeste van die voertuie wat verkoop is (318) was ligte handelsvoertuie en die res was passasiersvoertuie. Voertuigverkope vir die jaar tot datum is 32.1% laer vergeleke met 2019.
“Dit is geen verrassing dat geen voertuie in April uitgevoer is nie. Alles danksy die inperking,” het Michael Mabasa, Uitvoerende Hoof van Naamsa met die aankondiging van die syfers gesê.

GROOT BELASTING TEKORT VERWAG

Die regering verwag dat die belastinginkomste vanjaar tot soveel as R285 miljard onder begroting gaan wees, wat ʼn ernstige impak op die land se geldsake sal hê en daar sal waarskynlik by instansies soos die Internasion-ale Monetêre Fonds (IMF) vir hulp aangeklop word. Business Day het berig dat die Kommissaris van die Inkom-stediens, Edward Kieswetter, aangekondig het dat belastinginkomste tussen 15 en 20% laer kan wees as wat in die begroting voorspel is gemeet aan die syfers vir April.

Slim Wenk

As jy daarin belang stel om in nuwe sake-idees te belê wat aan die Universiteit van Oxford ontwikkel is, oor-weeg die Sygnia Oxford Sciences Innovation fonds. Brenthurst het beskikbaarheid om in hierdie fonds te belê vir Suid-Afrikaanse beleggers onderhandel. Lees meer hier: Eksklusiewe beleggingsgeleentheid. As jy Brenthurst se webinar oor hierdie fonds misgeloop het, luister hier na die aanbieding deur Sygnia Uitvoer-ende Hoof, Magda Wierzycka.

Bekyk finansies tydens inperking

As jy bietjie meer tyd tot jou beskikking het tydens die inperkingstydperk, is dit dalk net die ideale geleent- heid om jou finansies behoorlik in oënskou te neem. Is jou testament op datum? Pas jou risikoplan steeds by jou vereistes? Dit is baie belangrik om jou finansiële plan aan te pas as jou omstandighede verander. Ook, as jy enige van ons vorige nuusbriewe misgeloop het en nou tyd het om die insigte van ons span te lees, besoek die argief hier: Beleggingsverslae.