Internasionale Markte
Koronavirus neem handelsoorlog oor as grootste kwessie

Kommer oor die aaneenlopende handelsspanning tussen China en die VSA het so te sê verdwyn in Februarie toe markte wêreldwyd deur vrese oor die impak van die koronavirus getref is. Veral aangesien gevalle buite China begin toeneem het en beleggers bekommerd is oor wat dit vir ekonomiese groei en maatskappywin-ste gaan beteken. Die meeste vername beurse het Februarie laer afgesluit toe nuus bekend geword van skerp stygings in gevalle van die virus in Italië en Suid-Korea en ook die eerste geval in Kalifornië. Sover het die virus 83 000 mense wêreldwyd besmet (meer as 95% daarvan is in China). Verskeie Amerikaanse maatskappye soos Apple, Microsoft, Starbucks en McDonald’s het reeds waarskuwings uitgereik dat hulle waarskynlik nie verdiensteteikens gaan haal nie en dat hulle afsetverwagtinge afwaarts aangepas is.

In die VSA het die drie vernaamste beurse die hoogste weeklikse persentasie dalings sedert die Groot Finansiële Krisis aangeteken. Die Dow het Februarie 11% laer as in Januarie gesluit (jaar tot datum -10.1%) ná hierdie indeks op 27 Februarie met 4.4% gedaal het – die ergste syfer vir een dag in die mark se geskiedenis. Die S&P 500 het 8.6% laer gesluit (jaar tot datum -8.4%) terwyl die Nasdaq 4.5% laer (jaar tot datum -6.4%) was. Hoewel die indekse in sogenaame regstellings verval het, is die markte volgens Bloomerg nog nie naby ʼn beermark nie, wat gedefinieer word as ʼn daling van 20% of meer teenoor die vorige hoogtepunt. Die S&P 500 en die Dow het Februarie onderskeidelik 12% en 10% laer as die mees onlangse hoogtepunte gesluit.

➢ EUROPESE MARKTE OOK LAER
In die VK het die FTSE ook teen die einde van die maand verswak en Februarie 12.8% laer gesluit (jaar tot datum -9.7%). Aandele in Europa het Februarie afgesluit met die ergste weeklikse syfers sedert 2008. Die Duiste DAX het 10.3% laer gesluit (-8.4% jaar tot datum) en in Frankryk het die CAC 11.2% laer gesluit (-8.5% jaar tot datum).
In Asië het alle markte gedaal. Die Hong Kong Hang Seng het 7.3% laer gesluit (-0.7% jaar tot datum) en die Shangai saamgestelde indeks was 5.6% laer vir die maand (-3.2% jaar tot datum). Wat ekonomiese data betref is bekend gemaak dat die aankopers-indeks in China in Februarie tot 35.7 geval het van 50 in Januarie. Dit is die skerpste daling op rekord, wat dui op die probleme wat die virus vir daardie ekonomie veroorsaak het, bykomend tot die uitwerking van die handelsoorlog met die VSA. In Japan het die Nikkei 10.6% laer gesluit (-8.9% jaar tot datum).

➢ GOUDPRYS BEHAAL HOOGTEPUNT MAAR SAK TERUG
Kommoditeite is ook geraak. Die prys van ru-olie het in Februarie met 13% gedaal en die maand op $50.52 per vat afgesluit. VSA olie het teen $44.76 per vat verhandel – die laagste prys sedert 2018. Die goudprys het aanvanklik danksy die virus-vrese gestyg omdat beleggers na veiliger bates gevlug het maar dit het teen die einde van die maand weer terug gesak. Die goudprys het op 24 Februarie die hoogste kerf vir sewe jaar ($1 700 per ons) behaal maar uiteindelik 0.2% laer as in Januarie gesluit. Die prys van ystererts is getref deur gure weer in lande soos Australië en Brasilië maar is ook geraak deur verwagtinge dat gebruik daarvan in China gaan daal omdat produsente produksievlakke gaan verlaag en selfs vir ʼn tydperk gaan staak. Die platinaprys het 14.4% laer gesluit teenoor Januarie.

Plaaslike Markte
Koronavirus dryf JSE laer

Die koronavirus het in Februarie wêreldwyd versprei en die meeste markte is deur die impak van die virus, ook bekend as Covid-19, geraak. Die JSE het nie die grootskaalse dalings vrygespring nie en die FTSE JSE Indeks van Alle Aandele het die maand 9% laer as in Januarie afgesluit (-10.6% jaar tot datum). Mark swaargewigte soos Anheuser Busch InBev (-22.4% maand op maand), BHP Group (-13.8% maand op maand), British American Tobacco (-7.8% maand op maand), Naspers (-3.2%) en Prosus (-2.4%) het deurgeloop. Die indeks het op 24 Februarie die grootste daling vir een dag sedert Desember 2008 beleef en daardie dag 4.46% laer gesluit, nadat toenames in die aantal Covid-19 gevalle wat buite China aangemeld is markte senuweeagtig gemaak het. Kommer oor die 2020 Begroting en vrese dat swakker produksie in China die vraag na kommoditeite gaan afdruk het ook druk op die plaaslike mark geplaas. Kommoditeitspryse en ook aandeelpryse het sterk terug gesak en die Resi-10 het maand op maand 11.6% laer gesluit (-14.7% jaar tot datum), die Fini-15 8,2% laer vir die maand (-13.5% jaar tot datum) en die Indi-25 het die maand 6.5% laer afgesluit (-4.6% jaar tot datum). Ook die rand was onder druk en was vir die maand 4.2% laer teenoor die dollar.

Steinhoff International het in Februarie die beste gevaar en dié maatskappy se aandeelprys het 48.9% hoër as aan die einde van Januarie gesluit, hoewel van ʼn baie lae basis. Harmony Gold was in die tweede plek (9.3% vir die maand) en DRDGold (wat die beste vertoner vir Januarie was) in die derde plek met ʼn styging van 6.4% vir die maand.

EOH Holdings het in Februarie die swakste gevaar en die maatskappy se aandeelprys het met ʼn skrik-wekkende 63% gedaal en vlakke bereik soortgelyk aan die aandeelprys van 2004. Business Day het berig dat dit waarskynlik aangedryf is deur kommer oor die Groep se swak nakomingsgeskiedenis. Ascendis Health was in die tweede plek met ʼn daling van 47.5% vir die maand en Invicta in die derde plek op -36.5% maand op maand.

➢ INFLASIE STYG WEER
Inflasie het vir die tweede agtereenvolgende maand gestyg. Die syfer van 4.5% wat vir Januarie aangekondig is (teenoor 4% in Desember) is die halfpad-merk vir die SA Reserwebank se teikensyfers. Die hoër inflasie is veral te danke aan stygings in die pryse van brandstof en voedsel en ook vervoerkoste en ander dienskostes. Die SA handelsbalans vir Januarie is ʼn tekort van R1.87 miljard teenoor die aangepaste oorskot van R13.89 miljard in Desember.

Die voortgesette ekonomiese agteruitgang is duidelik in die syfers wat vir die vervaardigingsektor bekend gemaak is – die vierde agtereenvolgende maand van dalings. “Vervaardiging het nou die laagste vlakke sedert 2009 bereik, toe SA gestoei het met die newe-effekte van die Groot Finansiële Krisis. Die Absa Aan-koopbestuurdersindeks (PMI) het Februarie op 44.3 indekspunte afgesluit, die laagste sedert Augustus 2009,” aldus Business Day. Die dalings is algemeen en vier van die PMI se sub-komponente het gedaal. Van die respondente het beurtkrag as ʼn rede vir die dalings aangedui terwyl daar ook dalings is in nuwe bestellings, danksy die algemeen swak ekonomiese omstandighede.

➢ SAKEVERTROUE DIE LAAGSTE IN 34 JAAR
Die bedrukkende nuus oor die ekonomie is ook bevestig in die mees onlangse SA Sakevertroue-Indeks, wat in 2019 tot die laagste vlak in 34 jaar gedaal het. Dit is danksy kragonderbrekings, stadige beleidsverander-inge, die agteruitgang van die staat se finansies en ook die verwagting dat die land die enigste oorblywende beleggingsgradering gaan verloor.

ʼn Indeks van die algemene sentiment wat deur die SA Kamer van Handel en Nywerheid saamgestel is, toon dat vertroue tot ʼn gemiddeld van 92.6% gedaal het, die laagste sedert 1985.
Moody’s het in Februarie sy groeivooruitsigte vir die jaar vir die SA ekonomie afwaarts aangepas tot 0.7% en het kragonderbrekings as ʼn bydraende faktor aangevoer.

➢ GEEN BELASTINGVERHOGINGS IN BEGROTING
Die Minister van Finansies, Tito Mboweni, het laat in Februarie die 2020 Begrotingsrede gelewer. Dit is grootliks gunstig ontvang, hoewel ekonome en ontleders dit beklemtoon het dat implementering van deurslaggewende belang is. Mboweni het aangekondig dat die regering van plan is om die salarisuitgawes van die staat met R160 milhard te verminder ten einde die stygende begrotingstekort in toom te kry. Dit hang van onderhandelinge met vakbonde af, wat waarskynlik geen maklike proses gaan wees nie. Ander positiewe hoogtepunte sluit die nuus in dat geen belastings verhoog word nie, besteding aan infrastruktuur en meer geld vir wetstoepassing en die Nasionale Vervolgingsgesag. Anchor Capital het in kommentaar gesê die begroting is positief en bygevoeg dit wil voorkom of die regering uiteindelik na die werklike probleme wat die ekonomie raak kyk en nie net die simptome probeer bestry nie. “Hierdie is dalk net ʼn keerpunt,” aldus Anchor se verslag.

Verkope van nuwe voertuie het die dalende neigings van die afgelope jaar voortgesit. Die Nasionale Vereni-ging van Voertuigvervaardigers van SA (Naamsa) het bekend gemaak dat 43 485 voertuie in totaal in Febru-arie verkoop is, 320 of 0.7% minder as in Februarie 2019. Uitvoerverkope van 30 832 voertuie was 2 843 (-8.4%) laer as die ooreenstemmende maand verlede jaar.

Volgens die syfers is meer as 80% van die voertuie deur handelaars verkoop terwyl 11% deur die motorver-huringsmark aangekoop is, 4.3% deur die regering en 3.9% vir korporatiewe vlote
Bronne: Anchor Capital, Business Day, Bloomberg, Car Magazine, BusinessTech