INTERNASIONALE MARKTE – GEEN OKTOBER DRAMA NIE

Die sogenaamde ‘Oktober-effek’ – ʼn ongewone markverskynsel wat aandeelpryse in Oktober laat daal (soos die markineenstorting van 1929, die Swart Maandag van 1987, die bars van die internetborrel in 2002 en die internasionale finansiële krisis van 2008) het tot die verligting van beleggers nie gebeur nie en die meeste markte het positief gesluit. Dit was nogtans ʼn wisselvallige maand en markte het stygings en dalings beleef danksy steeds voortslepende handelspanning tussen die VSA en China. Daar was veral onsekerheid nadat Chinese amptenare twyfel uitgespreek het dat enige ooreenkoms bereik sou word. Soos verwag is het die Amerikaanse Federale Reserweraad (Fed) rentekoerse vir die derde keer vanjaar verlaag. Fed Voorsitter Jerome Powell het laat blyk dat daar geen verdere rentekoersverlagings sal wees nie; slegs as die ekonomiese vooruitsigte verswak. Die Fed het genoem dat internasionale ekonomiese vooruitsigte besig is om agteruit te gaan maar gesê Amerika vaar steeds goed.

Die drie vernaamste markte het die maand positief afgesluit. Die Nasdaq, wat bekend is vir die groot verskei-denheid tegnologie-aandele wat op hierdie beurs genoteeris, was 3.7% hoër as in September (+25% jaar tot datum), grootliks te danke aan goeie verdienstes wat deur Apple en Facebook bekend gemaak is. Die S&P 500 het die maand 2% hoër afgesluit (21.2% jaar tot datum) en teen die einde van die maand ʼn nuwe hoogtepunt aangeteken. Die Dow Jones Nywerheidsindeks was vir Oktober 0.5% hoër as September maar staan op +15.9% jaar tot datum.

► EUROPESE MARKTE POSITIEF

Die vernaamste Europese markte het vir die tweede agtereenvolgende maand positief gesluit. Die Duitse DAX was 3.5% hoër as September en staan op 21.9% jaar tot datum, terwyl die Franse CAC 0.9% hoër gesluit het (+21.1% jaar tot datum).

In die VK het die FTSE 100 2.2% laer gesluit (+7.7% jaar tot datum), grootliks weens ʼn swak vertoning deur Shell – een van die grootste maatskappye op daardie beurs – en Brexit-probleme. Brexit-ontwikkelinge het vir wisselvalligheid gesorg. Die Britse Eerste Minister, Boris Johnson, het ʼn nuwe ooreenkoms met die Europese Unie bereik en daar is ook aangekondig dat ʼn algemene verkiesing op 12 Desember gehou sal word. Die rede daarvoor is maande van geen vaste ooreenkomste of besluite deur die Britse parlement nie. Verkiesingsveldog-te is reeds van stapel gestuur en verskeie kommentators bespiegel oor die gevolge as Johnson en sy party nie herkies word nie.

Markte in Asië het positief gesluit met die Hang Seng 3.1% hoër (+4.1% jaar tot datum) en die Shanghai Saamgestelde Indeks +0.8% vir die maand (+17.4% jaar tot datum). Die jongste verslae uit China toon dat vervaardigingsbedrywighede in Oktober beter was as wat algemeen verwag is maar die impak van die handelsoorlog probleme is duidelik in die syfers vir die jaar tot datum.

In Japan het die Nikkei die maand 5.4% hoër afgesluit (+14.6% jaar tot datum) en die yen het verstewig nadat die Bank van Japan bekend gemaak het dat rentekoerse onveranderd bly.

PLAASLIKE MARKTE – HULPBRONNE STEUN JSE VIR BETER MAAND

Die plaaslike mark het in Oktober beter gevaar ná drie agtereenvolgende maande van dalings. Die FTSE JSE Indeks van Alle Aandele het maand op maand 2.9% hoër gesluit (+7% jaar tot datum), gesteun deur goeie stygings vir hulpbronaandele. Die Resi-10 het die maand 7.1% hoër afgesluit (+13.5% jaar tot datum) danksy stygings vir aandele soos Anglo American Platinum (+23.5%), AngloGold Ashanti (+16.3%), Anglo American (+9.9%) en Impala Platinum (+9%). Die Fini-15 het 2.8% hoër gesluit (-3.2% jaar tot datum) met aandeelprysstygings vir Sanlam (+6.7%), Capitec (+6.6%) en FirstRand (5.8%). Die Indi-25 is steeds onder druk maar het die maand 0.2% hoër as September afgesluit (+9.6% jaar tot datum).

Die beste vertoners vir Oktober is in verskillende sektore – goudmynaandele, nywerheidsaandele, finansiële aandele en selfs ʼn paar eiendomsmaatskappye. Goudmynaandele is gesteun deur ʼn stewiger goudprys, wat in Oktober met 3% gestyg het. Sibanye Gold (+38.9%) het die beste gevaar met Cartrack (+31.7%) in die tweede plek en EOH Holdings (+29.5%) in die derde plek. Die styging vir EOH is van ʼn lae basis – die maatskappy se aandeelprys is jaar tot datum 49.6% laer weens ʼn besonder moelike jaar van skandale.
ArcelorMittal het in Oktober die swakste gevaar en die aandeelprys van dié maatskappy het met 17.8% gedaal teenoor die vorige maand. Nampak (-15.4%) was in die tweede plek gevolg deur AB InBev met ʼn daling van 15.3%.

► TRAGIESE STAND VAN EKONOMIE IN TUSSENTYDSE BEGROTING UITGESPEL

Die Minister van Finansies, Tito Mboweni, het die volle omvang van die swak stand van sake betreffende die plaaslike ekonomie in die tussentydse begrotingsaankondiging uiteengesit en ook geen doekies omgedraai oor die ernstige probleme wat die staat se finansies in die gesig staar nie. President Cyril Ramaphosa het in Oktober die eerste Rusland-Afrika konferensie in Sochi bygewoon en die Minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, het die regering se spesiale verslag oor die stand van sake by Eskom bekend gemaak. Planne om die kragvoorsiener op die pad na herstel te kry is in die verslag uiteeng-esit. Eskom bly die grootste risiko vir die plaaslike ekonomie en die hoop is dat Gordan se plan – sou dit uitgevoer word – sake kan verbeter.

Die inflasiesyfer vir September was op 4.1% effens laer as die 4.3% wat vir Augustus bekend gemaak is. Volgense Statistieke SA se verslag was stygings in die pryse voedsel, nie-alkoholiese drankies, behuising en dienste die grootste bydraers tot die inflasiesyfer. Kleinhandel afsetsyfers het in Augustus jaar op jaar met 1.1% toegeneem teenoor die syfer van +2% wat in Julie aangekondig is. Die mees onstellende ekonomiese aanwyser wat in Oktober bekend gemaak is, is die werkloosheidsyfer wat nou op 29.1% staan – die hoogste in meer as 11 jaar.

► SAKE-AKTIWITEIT STEEDS ONDER DRUK

Syfers van sake-aktiwiteit wat vir Oktober vrygestel is – wat sakeprestasie in die private sektor meet – toon dat dit effens beter was as in September; 49.4 teenoor 49.2. Maar ʼn syfer laer as 50 is bevestiging van agteruitgang en die verslag het veral beklemtoon dat bestellings vir nuwe uitvoer die skerpste daling sedert Junie aangeteken het. Produksie deur ondernemings het vir die sesde agtereenvolgende maand gedaal, hoewel die dalings effens laer was as dit wat in die derde kwartaal aangeteken is. Volgens maatskappye wat inligting vir die verslag gelewer het, was kragonderbrekings weens beurtkrag een van die vernaamste bydraende faktore maar dat tekorte aan rou materiale ook hul sake in die maand belemmer het.

► UITVOER VAN NUWE VOERTUIE STYG WEER

Plaaslike verkope van nuwe voertuie was 4.1% laer op 295 021 eenhede maar uitvoer van nuwe voertuie was in Oktober 21% hoër (41 277 eenhede) teenoor die syfers vir dieselfde maand verlede jaar. Die totale aantal voertuie wat jaar tot datum uitgevoer is – 338 955 – is 19.3% meer as vir die ooreenstemmende tydperk verlede jaar

SLIM WENK

Kyk na die syfers vir markprestasie van verskillende internasionale markte in die tabel onder en hoe dit met die plaaslike mark vergelyk. Dit is vir hierdie rede dat Brenthurst Wealth reeds vir jare aanbeveel dat beleggers internasionaal diversifiseer. Maak seker dat jou portfeulje aan jou bepaalde behoeftes voldoen en blootstelling aan die wêreld se beste markte kry.

Tabel gefinaliseer op 4 November 2019 Bron: Goldman Sachs

NUUSFLITS

Die kantore van Brenthurst Wealth sluit om 13:00 op Vrydag 20 Desember 2019 en sal 08:30 op 6 Januarie 2020 heropen.

As jy enige instruksies betreffende jou beleggings het, kommunikeer met jou adviseur nie later nie as Dinsdag 10 Desember 2019.

WARNING!

Please be vigilant of fraudsters purporting to act on behalf of Brenthurst Wealth from various other domains.

All Brenthurst emails are sent from one of the following domains: @brenthurstwealth.co.za or our Mauritius office @brentwealth.mu ONLY and from NO OTHER DOMAINS such as: brenthurstwealthservices.com

You have Successfully Subscribed!