INTERNASIONALE MARKTE

– MAART GROEI SO-SO, KWARTAAL LYK GOED

► VRESE VAN SWAKKER EKONOMIESE GROEI DEMP MARKTE

Hoewel internasionale markte in Maart met gemiddeld net 1.3% gestyg het, lyk die prestasie vir die eerste kwartaal van die jaar heelwat beter op ʼn gemiddeld van 12.2%. Markte het die voort- slepende onsekerheid oor handelsdispute en politieke risiko van die eerste twee maande van die jaar afgeskud. Maar daar is toenemende onsekerheid dat ekonomiese groei besig is om te verswak, wat die syfers vir Maart onder druk geplaas het. Dit is deur Christine Lagarde, Uitvoerende Hoof van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) bevestig. Sy het by ʼn onlangse aanbieding in Washington gesê die internasionale ekonomie beleef ʼn ‘delikate tydperk’.

Die markte van ontwikkelde en ontluikende lande het in die maand stewiger vertoon, maar die stygings was heelwat beter in die ontwikkelde markte. Die MSCI Indeks vir Ontluikende Markte het in die eerste kwartaal met 12.5% gestyg, terwyl die S&P500 Indeks die eerste kwartaal 13.6% hoër afgesluit het. Die Eurostoxx 50 Indeks was 12.3% stewiger in die eerste kwartaal van 2019, ondanks Maart se styging van slegs 1.9% vir hierdie mark. Die Nikkei 225 het nie watwonders gevaar nie en onveranderd gebly.

 

Ontluikende markte het redelik goed gevaar en die MSCI EM Indeks het Maart 0.8% hoër gesluit en is 9.9% op vir die kwartaal. Aandele in Asië het goed vertoon maar in Latyns Amerika, die Midde Ooste en Afrika het markte effens verswak. Die MSCI Asië Indeks het goed gevaar vir die kwartaal en 11.1% hoër as die vorige kwartaal gesluit en 1.8% hoër maand op maand. Die markte in Asië is in die besonder gesteun toe bekend gemaak is dat die keerdatum vir onderhandelinge tussen China en die VSA na April geskuif gaan word.

► BREXIT DRAMA DUUR VOORT

Die VK se stem om die Europese Unie (EU) te verlaat het die ekonomie reeds baie gekos aangesien verskeie maatskappye besluit het om kantore, personeel, bates en regsentiteite van die VK na die EU te verskuif. Groei in vaste belegging in die VK is swakker weens die voortslepende beleidonsekerheid. As die EU weier om ʼn ooreenkoms heronderhandel is ʼn paar opsies moontlik. Een daarvan is ʼn tweede referendum, wat die publiek nog ʼn kans sal gee om te besluit om te bly of te gaan.

 

PLAASLIKE MARKTE

– ‘N MAAND IN DIE DONKER

► KRAGPROBLEME DRYF PESSIMISME

Suid-Afrikaners sal Maart waarskynlik onthou vir die tien agtereenvolgende dae van kragonderbrekings wat deur Eskom geïimplementeer is. Pessimisme het tydens die donker dae ʼn hoogtepunt bereik toe die Minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, aangedui het personeel probeer nog die oorsaak van die probleme vind en hoe lank dit gaan neem om reg te stel. Aandele wat aan verbruikersgedrag blootgestel is het gevolglik besonder swak gevaar. Banke is die swaarste getref – ABSA en Nedbank het onderskeidelik 16% en 12% laer gesluit en die kleinhandelaar Mr Price het die maand 12% laer afgesluit.

Die kragprobleme het ook aanwysers soos die Aankopebestuurders Indeks (bekend as PMI) en die Sake-Vertroue Indeks geraak. Die jongste PMI syfer toon duidelik dat sake-aktiwiteit in Maart agteruitgegaan het, grootliks danksy die lang tydperke van kragonderbrekings. Die PMI het in Maart tot 48.8 gedaal teenoor 50.2 wat vir Februarie bekend gemaak is. ʼn Syfer hoër as 50 dui op verbetering in die private sektor. Die RMB/BEO Indeks van Sake-Vertroue het in die eerste kwartwaal met drie punte tot 28 gedaal, teenoor 31 wat vir die vorige kwartaal bekend gemaak is.

Dit is die swakste vertroue indeks sedert die tweede kwartaal van 2017 en vier van die vyf sektore wat vir die bepaling van die indeks in ag geneem word – konstruksie, kleinhandel, groothandel, vervaardiging en voertuigverkope – het swakker vertroue aangedui. Daar word wyd verwag dat die volgende verbruikersvertroueindeks (wat kwartaaliks bekend gemaak word) dieselfde tendens gaan volg.

 

► JSE VAAR NIE TE WAFFERS IN EERSTE KWARTAAL

Die hulpbronne sektor het in Maart die beste gevaar en die Resi Indeks het 4.7% hoër as Februarie gesluit. Dit het die beurs se algehele prestasie gesteun en die JSE het maand op maand 1.6% hoër gesluit. Die nywerheidsindeks het ook hoër gesluit (+2.9%) maar finansiële aandele het maand op maand 4% laer gesluit. Aandele wat die grootste positiewe bydraes gemaak het was Naspers en mynboumaatskappye, laasgenoemde aangedryf deur hoër kommoditeitspryse. Verskeie plaaslike maatskappye het resultate bekend gemaak, verskeie daarvan nie watwonders nie. Die swakste vertoner onder die beurs se 40 grootste aandele was Aspen. Die maatskappy se aandeelprys het met 30% geval die dag nadat resultate aangekondig is dat skuld vinniger as operasionele kontantvloei styg.

Syfers vir die eerste kwartaal van die jaar toon dat die SA aandelemark swakker as internasionale markte gevaar het. Die FTSE/JSE Indeks van Alle Aandele het die kwartaal 8% hoër afgesluit, terwyl internasionale markte vir dieselfde tydperk gemiddeld 12.2% hoër gesluit het. Hulpbron-aandele was ook vir die kwartaal die beste vertoners en het ʼn styging van 17.8% aangeteken. Kyk na die grafiek en tabel wat die lewelose vertoning van die JSE teenoor verskeie internasionale fondse duidelik aandui. Verwys ook na die markte-tabel aan die einde van hierdie verslag.

 

PLAASLIKE MARKTE

– SA BELEGGINGS RAAK AGTER

► RAND SWAKKER

Die SA rand het in Maart met 2.8% teenoor die Amerikaanse dollar verswak, 1.5% teenoor die Euro en 1.2% teenoor die Britse pond. Hoewel Eskom so probleme daartoe bygedra het, was dit grootliks internasionale gebeure wat die waarde van die rand beïnvloed het. Hoewel swakker het die rand beter teen die dollar gevaaar as die geldeenhede van verskeie ander lande, onder meer Argentinië (-9.8%), Brasilië (-4.2%), Turkye (-4.1%) en China (-4.1%). Die SA Reserwebank het by die laaste vergadering van die Monetêre Beleidskomitee besluit om die rentekoers onve- randerd op 6.75% te hou.

Die lustelose stand van die ekonomie is bevestig in ‘n verslag deur Bloomberg, waarin genoem is dat ekonomiese groei in Suid-Afrika en Nigerië – die grootste ekonomieë op die vasteland – baie swakker as die van verskeie ander Afrika-lande is.

 

Die berig het syfers aangehaal van die Afrika Ontwikkelingsbank wat toon dat die BBP van Nigerië in 2019 slegs 2.3% sal groei, baie laer as daardie land se bevolkingsgroei. Ekonomiese groei in Suid -Afrika gaan selfs swakker wees op 1.7%, aangesien die land steeds sukkel om die uitwerking van ‘n resessie in 2018 af te skud. Albei lande verskyn op die Bank se lys van die tien lande met die stadigste ekonomiese groei in Afrika.

Die moeilike handelstoestande vir die voertuigmark duur voort. Totale plaaslike verkope was in Maart 47 718 eenhede, ʼn daling van 3.1% (1 512) eenhede teenoor dieselfde maand verlede jaar. Uitvoerverkope was weereens ‘n ligpunt en 7 135 meer voertuie (+23.7%) is in Maart uitgevoer, vergeleke met 30 161 in Maart 2018.