INTERNASIONALE MARKTE – WISSELVALLIGE MAAND VIR INTERNASIONALE MARKTE

► VERSKEIE AANDEELBEURSE LAER AS DIE VORIGE MAAND
Oktober was geen sprankelende maand vir verskeie internasionale markte nie en die S&P 500 indeks het die swakste maand in meer as sewe jaar gehad (sedert September 2011 tydens ʼn skuldkrisis in Euro-pa). Die maand het begin met meer spanning tussen Italië en die Europese Unie oor daardie land se voorgestelde skuld-oorlaaide begroting. China se A50 indeks het die swakste maand sedert 2016 beleef to buitelanders van aandele ter waarde van $1,4 miljard ontslae geraak het. Internasionale gebeure het druk op Amerikaanse markte geplaas en die S&P 500 het in twee dae 5% van sy waarde verloor, net voor die bekendmaking van maatskappyverdienstes vir die derde kwartaal begin het.
Meer as 60% van die maatskappye wat in die S&P 500 ingesluit is het in Oktober resultate aangekondig. Die gemiddelde groei was 23% (6% meer as wat alge-meen verwag is). Ondanks die gesonde syfers kon beleggers nie vrese afskud dat hierdie waarskynlik nou die beste syfers vir Amerikaanse maatskappye gaan wees nie. Groot tegnologie-maatskappye, wat vir verskeie maande beurse gesteun het, het in Oktober tot swakker syfers bygedra nadat Amazon en Google op dieselfde dag bekend gemaak het dat inkomstegroei teleurstellend was.

► ONTLUIKENDE MARKTE STEEDS ONDER DRUK
ʼn Lopie aan die einde van die maand was net-net genoeg om seker te maak Amerikaanse markte se syfers is vir die jaar tot datum beter as in 2017. Die drama van Oktober het verseker dat daar byna geen ander aandeelbeurse is wat jaar tot datum stewiger is nie. Die een uitsondering is die aandelebeurs van Brasilië wat ondanks die verswakking van die land se geldeenheid, in dollar gemeet steeds beter lyk as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. Die vooruitsigte vir ander ontluikende markte lyk nie so goed nie en die MSCI Indeks vir Ontluikende Markte het in Oktober die verliese vir jaar tot datum byna verdubbel en is nou 16% laer as in dieselfde tydperk in 2017.

► DOLLAR STEWIGER
Te midde van die wisselvalligheid het die Ameri-kaanse dollar sy status as ʼn veilige hawe vir beleggers behou en het Oktober 2% stewiger afgesluit. Die olieprys het in Oktober effens gedaal. Amerikaanse ekonomiese groeisyfers vertoon steeds goed en ʼn syfer van 3.5% teenoor die verwagte 3.3% groei is bekend gemaak. Die groei is danksy 4% groei in ver-bruiksbesteding een geen tekens dat daar opwaarste druk op daardie land se inflasiesyfer is nie.

PLAASLIKE MARKTE – JSE VOLG INTERNASIONALE MARKTE TENDENS

► JSE SLUIT 6% LAER
Voortgesette vrese oor ʼn handelsoorlog, stadiger ekonomiese groei, hoër rentekoerse, spanning met Saoedi-Arabië ná die moord van ʼn joernalis en kom-mer dat die verdienstes van Amerikaanse maatskap-pye hoogtepunte bereik het, het in Oktober wêreld-wyd druk op verskeie aandelebeurse veroorsaak. Die JSE was geen uitsondering nie en die FTSE JSE Indeks van Alle Aandele het maand op maand op 52 388.87 6% – laer gesluit (-12% jaar tot datum). Teleurstellen-de vertonings vir die aandeelpryse van groot maatskappye soos Naspers (-15%), BHP Billiton (-4.1%), British America Tobacco (-3.6%), Richemont (-7%) en Glencore (-1.7% maand op maand) het die swak vertoning vir die JSE gedryf.
Hoewel hulpbronaandele van die beste vertoners was in Oktober, danksy ʼn hoër goudprys wat goudmyn-aandele gesteun het, het groot mynaandele soos An-glo American, BHP Billiton en Glencore die hulpbronne-sektor beïnvloed en die Resi-20 het maand op maand 4.2% laer gesluit (+14% jaar tot datum). Nywerheidsaandele is besonder swaar getref en die Indi-25 het maand op maand 8.6% laer gesluit (-20.6% jaar tot datum). Finansiële aandele het ook nie waffers gevaar nie en dié sektor se aandeelpryse het maand op maand 4.5% laer gesluit (-11.5% jaar tot datum) dansky maand op maand dalings vir FirstRand (-5.2%), Sanlam (-6.1%) en Standard Bank Groep (-6.7%).

►INFLASIE ONVERANDERD
Wat ekonomiese nuus betref is bekend gemaak dat verbruikersprysinflasie (VPI) jaar op jaar onveranderd is op 4.9%, hoewel inflasie maand op maand met 0.5% gestyg het. Kerninflasie, wat onder meer voed-selpryse en brandstof uitsluit, was in Augustus jaar op jaar onveranderd op 4.2%. Die rand was in Oktober onder druk het maand op maand 4.6% swakker afgesluit. Die waarde van die plaaslike geldeenheid is deur die bekendmaking van die mediumtermynbe-grotingsraamwerk (MTBR) en die agentskap Moody’s se reaksie op die begroting beïnvloed. Jaar tot datum is die rand 16% swakker tenoor die Amerikaanse dollar.

► TITO MBOWENI LEWER TUSSENTYDSE BEGROTINGSREDE
Aan die politieke front het Nhlanhla Nene as minister van finansies bedank ná hy bekend gemaak het dat hy verskeie kere tussen 2010 en 2014 die kontrover-siële Gupta familie aan huis besoek het. President Cyril Ramaphosa het Tito Mboweni as die nuwe minister van finansies aangestel en Mboweni het kort na sy aanstelling die uitdagende taak gehad om op kort kennisgewing die MTBR aan te bied. Die MTBR het die swak fiskale vooruitsigte uiteengesit en ʼn donker prentjie van die land se geldsake geskets. Moody’s, die enigste van die graderingsagentskappe wat SA steeds ʼn beleggingsgradering gee, het die begroting as krediet-negatief beskryf. Die ondersoek na die ineenstorting van die VBS Mutual Bank het bevind dat R1.9 miljard van die bank gesteel is en ʼn hele paar prominente politieke name is in die verslag van die ondersoekbeampte adv. Terry Motau uitgelig. Daar was ʼn klein bietjie goeie nuus toe daar ná afloop van President Ramaphosa se beleggingskonferensie aan die einde van Oktober aangekondig is dat beleg-gings ter waarde van R290 miljard onderhandel is.

►BETER MAAND VIR VOERTUIGVERKOPE
Voertuigverkope het in Oktober opgeflikker en die grootste maandelikse totaal vir die afgelope drie jaar is bereik, terwyl uitvoersyfers van voertuie met 21% teenoor verlede jaar gestyg het. Plaaslike verkope van nuwe voertuie was 51 866 eenhede, 1.7% beter as die ooreenstemmende maand in 2017 en die beste syfer sedert Oktober 2015.
Die goeie maand het nie die volle jaar se syfers laat beter lyk nie. Totale verkope vir die tien maande tot einde Oktober staan op 464 742 eenhede, 0,5% min-der as in die ooreenstemmende tydperk in 2017.