INTERNATIONALE MARKTE

S&P 500 INDEKS BEREIK NUWE REKORD

Markkommentators was baie opgewonde oor ʼn nuwe bulmark lopie rekord wat vir die S&P 500, een van die vernaamste indekse in Amerikaanse markte, aangeteken is. Die S&P 500 het teen die einde van Augustus vir 3 453 dae (sedert Maart 2009) ononderbroke stygings aangeteken. Sommige waarnemers waarsku dat ʼn korreksie op pad is, maar vir die oomblik geniet beleggers in maatskap-pye wat deel is van die S&P 500 die opbrengste. Waardes het sedert Maart 2009 meer as vervierdubbel.

Die ander vername indekse – die Dow Jones en Nasdaq – het ook goed gevaar, aangedryf deur goeie resultate deur vooraanstaande internasionale maatskappye. Die Dow en die S&P 500 het Augutus 2.1 % hoër afgesluit en die beste maandelikse vertonings sedert 2014 aangeteken. Die Nasdaq
saamgestelde indeks het die beste maand sedert Augustus 2000 aangeteken en 5.7% hoër afgesluit.

► VSA VERBRUIKERSVERTROUE STEEDS HOOG
Verbruikersvertroue in Amerika is steeds hoog en ‘n matige styging is vir Augustus bekend gemaak, hoewel verskeie ontleders verwag het dit gaan afneem. Die Universiteit van Michigan se verslag toon verbruikersvertroue staan op 96.2, terwyl ʼn Reuters opname verwag het dit sal daal tot 95.5.
Onderhandelinge tussen die VSA en sy handelsven-note bly gespanne en dryf onsekerheid, danksy Presi-dent Trump se voortgesette uitsprake rakende nuwe beleid.

► EUROPESE MARKTE BLY ONDER DRUK
In die Eurosone het die Eurostoxx 50 Indeks in
Augustus nie so goed soos Amerikaanse markte gevaar nie. ʼn Effens beter as verwagte groeisyfer vir Duitsland, effens swakker euro en die nuus dat Griekeland nie meer op hulppakkette staatmaak nie, was nie genoeg om die mark te steun nie.

►SPANNING OOR HANDEL EN STERK DOLLAR DUUR VOORT
Spanning oor handelsooreenkomste en ʼn sterk dollar het in Augustus nuusberigte rakende ontluikende markte oorheers. Handelsbetrekkinge tussen die VSA en China het verder agteruitgegaan nadat die VSA gedreig het om ʼn handelstarief van 25% op Chinese goedere ter waarde van $200 miljoen te hef (die goedere was reeds onderwerp aan ʼn tarief van 10%). Daar is ook ʼn nuwe wet bekend gestel wat invloei van buitelandse beleggings gaan beheer. Hierdie stap is nie regstreeks op China gemik nie maar gaan daardie land se uitvoere na die VSA beïnvloed.

JP Morgan het in ʼn beleggingsverslag gesê dat ekonomiese data vir Augustus toon dat die inter-nasionale ekonomie steeds gesonde groei aanteken, wat maatskappyverdienste wêreldwyd sal steun. Maar politieke spanning duur voort wat onsekerheid en wisselvalligheid kan veroorsaak.

PLAASLIKE MARKTE

STORMAGTIGE MAAND VIR GELEENTHEID, JSE EFFENS BETER

Die plaaslike geldeenheid het in Augustus weereens ʼn stormagtige maand beleef, danksy verskeie faktore wat dit beurtelings sterker en weer swakker gedryf het. Die rand het in Augsutus groter wisselval-ligheid ervaar as tydens die hoogtepunt van die magstryd tussen Jacob Zuma en Cyril Rampahosa in Desember verlede jaar. Die geldeenheid het in die maand tussen R13.18 en R15.55 verhandel, hoewel daar beperkte likiditeit in markte was omdat markte in die noordelike halfrond op somervakansies gefokus het.

Negatiewe sentiment teenoor ontluikende markte was ʼn deurslaggewende faktor maar ‘n tweet deur Amerikaanse President Donald Trump oor grondon-teiening sonder vergoeding het ook tot die opwaartse en afwaartse bewegings van die rand bygedra. Die rand was ʼn slagoffer van gebeure in Argentinië waar daardie land se besluit om rentekoerse agressief te verhoog nie die verswakking van die peso kon stuit nie. Die Turkse lira het ook gesukkel nadat Moody’s 20 van daardie land se finansiële instellings afgradeer het. Dit het sentiment teenoor alle ontluikende markte as ʼn bateklas negatief beïnvloed.

► GROOT AANDELE STEUN JSE
Ondanks die druk op ontluikende markte, danksy die probleme in Turkeye en voortslepende spanning oor handelsooreenkomste, het die plaaslike beurs die maand effens stewiger afgesluit. Die FTSE JSE Indeks van Alle Aandele het maand op maand 2.2% sterker gesluit (-1.4% jaar tot datum). Business Day het berig dat die Indeks van Alle Aandele op 28 Augustus vir ʼn kort wyle die 60 000 kerf oorgesteek het, die eerste keer in ses maande, voor dit weer terug gesak het. Goeie vertonings deur Sasol (+11.2% maand op maand), Richemont (+13.3% maand op maand) en ook Naspers (+1% maand op maand) het die indeks gesteun. Mynbou andele soos Harmony Gold (+9.8% maand op maand) en BHP Billiton (+4.3% maand op maand) het die hulpbronne sektor gesteun en die Resi-10 het die maand 5.2% hoër (+20.4% jaar tot datum) afgesluit. Nywerheidsaandele het die maand 2% hoër gesluit maar is jaar tot datum 5% laer. Finansiële aan-dele het 0.3% vir die maand terug gesak (-4.2% jaar tot datum). MTN, wat eens ʼn uiters gesogte aandeel vir beleggers was, het opnuut probleme met sy bedrywighede in Nigerië ervaar en die kommunikasiemaatskappy se aandeel het naby die einde van die maand met 20% gedaal. Die MTN aandeelprys het verswak nadat Ni-geriese owerhede die maatskappy en sy bankiers op-drag gegee het om $8.1 miljard terug te betaal, omdat die land se sentrale bank van mening is dit is on-wetting oorgeplaas. Dit het ook die aandeelprys van Standard Bank geraak aangesien die bank se Nigeriese Stanbic filiaal ook by die transaksie betrokke was.

► AANWYSERS WYS EKONOMIE STEEDS ONDER DRUK
Ekonomiese aanwysers wat bekend gemaak is toon baie duidelik die swak stand van die plaaslike ekonomie en gevolglik lyk die vooruitsigte vir die res van die jaar nie te waffers nie. Die Absa Aank-oopbestuurdersindeks (PMI) het in Augustus tot 43.4 punte verswak, vanaf 51.1 in Julie. Dit is die laagste vlak in 13 maande vir ʼn sektor wat 13% van die BBP verteenwoordig. ʼn Syfer laer as 50 dui op swakker be-drywighede in vervaardiging.

Kleinhandelverkope het in Junie jaar op jaar met 2.9% gestyg, effens hoër as wat verwag is. Verbruikerspry-sinflasie het vir die derde agtereenvolgende maand gestyg en staan nou op 5.1%, ʼn hoogtepunt vir die afgelope tien maande. Hoër brandstofpryse – en die uitwerking daarvan op die kostes van ander goedere – asook die swakker rand was groot bydraende faktore. ʼn Handelstekort van R4.66 miljard is vir Julie aangekondig, wat die mark verras het en baie laer is as wat algemeen verwag is. ʼn Peiling deur Bloomberg het getoon dat ontleders ʼn oorskot van R5.2 miljard verwag. In Junie is ʼn oorskot van R11.89 miljard aangekondig.

Voertuigverkope het ook teleur gestel. Die jongste syfers toon dat daar in die eerste agt maande van die jaar 363 233 voertuie verkoop is, teenoor 365 534 in die eerste agt maande van 2017.

Bronne:
Anchor Capital I Business Day I Momentum
Fin 24 I Daily Mail UK I JP Morgan