INTERNATIONALE MARKTE – SPANNING WEENS HANDELSOORLOG DUUR VOORT

Daar was in Julie steeds kommer oor voortgesette spanning tussen die VSA en China en verhoudinge tussen die twee lande verloop glad nie goed nie. Pres-ident Donald Trump se administrasie het in die maand tariewe ter waarde van $34 miljard op inge-voerde Chinese produkte aangekondig. China het in reaksie dieselfde bedrag aangekondig vir tariewe op Amerikaanse goedere. Die handelsdispuut met Europa het effens bedaar en Trump het aangekondig dat die VSA en die Europese Unie in gesprek is oor tariewe, ten einde ʼn handelsoorlog te vermy. Die Amerikaanse dollar bly stewig nadat die Federale Reserweraad aangekondig het dat rentekoerse gelei-delik verhoog sal word en ook danksy gesonde vooruitsigte vir die Amerikaanse ekonomie.

Die Nasdaq is jaar tot datum die beste vertoner van die drie vernaamste Amerikaanse indekse (die Dow en S&P 500 is die ander twee) en is nou 11.1% hoër danksy goeie vertonings van groot tegnologie maatskappye. Maand op maand was die Nasdaq 2.2% hoër ondanks dalings wat aangeteken is ná teleurstel-lende syfers wat teen die einde van die maand deur Facebook bekend gemaak is. Die S&P 500 het maand op maand met 3.6% gestyg (jaar tot datum +5.3%) en die Dow Jones het Julie 4.7% hoër as Junie afgesluit (+2.8% jaar tot datum).

Die Amerikaanse ekonomie het in die tweede kwartaal goeie groeisyfers gelewer danksy staats- en verbruikersbesteding. Die groeikoers van 4.1% is die beste wat in die afgelope vier jaar aangeteken is. Voorts het verbruikersvertroue in Julie toegeneem en indiensnemingsyfers was ook positief.

Europese aandele het goed vertoon in Julie en die Duitse Dax het maand op maand met 4.1% gestyg, die beste maand sedert April. Hierdie indeks is wel jaar tot datum effens swakker op -0.9%. Die CAC in Frank-ryk het maand op maand 3.5% hoër gesluit en die VK se FTSE 100 het maand op maand met 1.5% gestyg (+0.8% jaar tot datum). In teenstelling met gesonde groei in Amerika het die eurosone se ekonomie in die tweede kwartaal swakker gevaar en ʼn groeikoers van 2.1% is aangekondig (ʼn koers van 2,2% was algemeen voorspel) danksy swakker uitvoersyfers en ook omdat kommer oor handelskwessies vertroue geknou het. Inflasie in die eurosone het jaar op jaar tot 2.1% gestyg en is hoër as die Europese Sentrale Bank se teiken.

In Asië was markte sonder lewe weens die voortslepende handelsoorlog kwessie. Hong Kong se Hang Seng indeks het maand op maand met 1.3% gedaal (-4.5% jaar tot datum). Die Chinese geldeen-heid het vir die vierde agtereenvolgende maand verswak en swakker as verwagte groeisyfers is vir die vervaardigingsektor aangekondig. Bykomend tot die tariewe kwessie het slegte weer en laer plaaslike vraag vervaardigingsaktiwiteite onder druk geplaas. In Japan het die Nikkei die maand 1.1% hoër afgesluit (-0.9% jaar tot datum), gesteun deur goeie resultate van gesogte aandele soos Sony en Nintendo.

PLAASLIKE MARKTE – NEGATIEWE SENTIMENT STERKER – DANKSY GRONDKWESSIE EN STYGENDE WERKLOOSHEID

Julie is afgesluit met ʼn laatnag aankondiging deur President Cyril Ramaphosa dat die ANC eensydig besluit het om artikel 25 van die Grondwet (die eien-domklousule) te wysig, ondanks die voortgesette landwye openbare byeenkomste rakende die kwessie. Dit was slegte nuus vir die rand en die plaaslike geldeenheid het onmiddellik ná die aankondiging verswak. Business Day het die volgende oggend berig dat die rand geleidelik stewiger vertoon het en deur die loop van die dag op 31 Julie op ʼn hoogtepunt vir twee maande teen R13.08/$ verhandel het maar teen die volgende oggend na R13.39/$ verswak het. Die dalings het direk ná die President se verklaring begin.

Die amptelike werkloosheidkoers het in die tweede kwartaal van die jaar met 0.5% tot 27.2% gestyg, vanaf die syfer van 26.7% in die eerste drie maande van die jaar. Die styging in werkloosheid was te danke aan ʼn daling van 90 000 mense wat werk en ook ʼn styging van 102 000 onder diegene wat werk-loos geword het. Daarby het die aantal mense wat nie meer aktief werk soek nie tot 2.9 miljoen gestyg. Financial Mail het dit in kommenaar as ʼn nasionale noodtoestand beskryf en gesê ‘mens moet wonder hoekom die werkloosheidsyfers nie ʼn krisissituasie reaksie ontlok het nie’.

Hierdie twee nuusgebeure aan die einde van die maand gaan waarskynlik negatiewe sentiment in Augustus aanblaas. Die JSE het die maand swakker afgesluit en die FTSE JSE Indeks van Alle Aandele was aan die einde van Julie 0.3% swakker as in Junie (-3.5% jaar tot datum). Goudmynaandele, ander mynaandele en ook Naspers was veral onder druk. Naspers is grootliks geraak weens sy groot aandeel-houding in Tencent, wat in Hong Kong genoteer is, nadat daardie aandeel maand op maand met meer as 9% gedaal het. Finansiële aandele het goed gevaar en die Fini-15 het maand op maand met 6,4% gestyg (-3.9% jaar tot datum), terwyl nywerheidsaandele maand op maand 2.3% swakker gevaar het (-6.9% jaar tot datum). Hulpbronaandele het met 1.4% verswak teenoor Junie danksy dalings in die aandeelpryse van maatskappye soos BHP Biliton en Anglo American, wat onderskeidelik met 2.8% en 3.1% gedaal het. Die hulpbronindeks is wel jaar tot datum 14.4% stewiger.

Steinhoff International het in Julie die beste vertoning aangeteken. Die aandeelprys het maand op maand met 93% gestyg, hoewel van ʼn baie lae basis. Arce-lorMittal was in die tweede plek met ʼn styging van 50.9% en EOH Holdings in die derde plek met ʼn styging van 28.2% maand op maand.

Ná ʼn indrukwekkende vertoning in Junie het die Namibiese finansiële dienste maatskappy Trustco Holdings se aandeelprys in Julie skerp gedaal en dit was die swakste vertoner vir die maand. Trustco het die maand 26.3% laer afgesluit, teenoor ʼn styging van 42.9% in Junie. In die tweede plek was Capital & Regional Plc wat maand op maand met 24.9% gedaal het. Niveus was in die derde plek en dié maatskappy se aandeelprys het maand op maand 23.1% laer gesluit.

Wat ekonomiese aanwysers betref is bekend gemaak dat SA se kleinhandelsyfers jaar op jaar met 1.9% toegeneem het, die tweede laagste styging sedert Julie 2017. Kredietverlening in die private sektor het op ʼn jaargrondslag met 5.68% toegeneem, beter as die 5.07% wat algemeen verwag is. Verbruikerspry-sinflasie vir Junie staan op 4.6% teenoor 4.4% in Mei. Die SA Reserwebank (SARB) het die repokoers onve-randerd op 6.5% gehou en sy groeivooruitsigte afwaarts tot 1.2% vanaf 1.7% aangepas. Die SARB verwag ekonomiese groei om in 2019 tot 1.9% te styg en dat groei van 2% in 2020 aangeteken sal word. Die bank beskou die voortslepende spanning oor ʼn handelsoorlog tussen die VSA en China en hoër inter-nasionale oliepryse as die grootste gevare vir hoër inflasie.

ʼn Ander kwessie wat die sukkelende ekonomie bedreig was die nuus dat Eskom beurtkrag beplan. Volgens Fin24 het die kragvoorsiener in die laaste dae van Julie gewaarsku dat nasionale kraglewering onder druk is – weens protes en intimidasie deur werknem-ers. Loonsonderhandelinge duur voort met vakbonde wat vasberade is om bonusse te beding.

Verkope van voertuie het weereens goed vertoon en 47 881 nuwe voertuie is in Julie 2018 verkoop, 1 210 (+2.6%) meer as die 46 671 wat in Julie 2017 verkoop is, aldus Naamsa se maandelikse verslag. Die organ-isasie sê plaaslike verkope was volgens verwagting maar het daarop gewys dat uitvoerkope steeds teleur stel. Volkswagen het weer oorheers en die top twee plekke in die lys van top verkopers beklee, hoewel Toyota die grootste aantal motors in die lys van die top tien verkopers het.

Bronne:
Anchor Capital I Business Day I Wheels24
Fin24 I Financial Mail