INTERNASIONALE MARKTE
DRAMATIESE SKOMMELINGE AAN DIE ORDE VAN DIE DAG

Amerikaanse markte het in Februarie van die grootste skommelinge sedert die internasionale finansiële krisis beleef en groot stygings aan die begin van die maand is deur dalings en nog dalings, veral teen die einde van die maand, gevolg. Die Dow Jones Nywerheidsindeks het twee keer in die maand met 1 000 punte gedaal weens kommer dat hoër inflasie rentekoersverhogings tot gevolg gaan hê. Dalende oliepryse en ʼn sterker dollar het ook markpres-tasie beïnvloed. Die Dow het in die laaste twee dae van Februarie met 680 punte geval en het die maand 1 600 punte laer as die hoogtepunt van laat Januarie gesluit. Maand op maand het die Dow 3.3% laer gesluit (jaar tot datum op +1.3%) terwyl die S&P500 3.9% swakker was vir die maand (+1.5% jaar tot datum) en die Nasdaq was maand op maand 1.9% laer (jaar tot datum +5.4%).

Wat ekonomiese nuus betref lyk die vooruitsigte vir die VSA steeds goed en verbruikersvertroue het in Februarie die hoogste vlak in 17 jaar bereik, maatskappy-winste wat aangekondig is was grootliks uitstekend en daar word verwag dat ʼn geraamde styging van 15% van die verdienste van maatskappye wat op die S&P500 gelys is verwesenlik sal word. Nogtans het die Amerikaanse Han-delsdepartement sy verwagtinge vir ekonomiese groei effens afwaarts aangepas en groei vir die vierde kwartaal van verlede jaar is as 2.5% bekend gemaak teenoor die 2.6% wat verwag is.

Groot skommelinge is ook in ander markte ervaar en die meeste internasionale aandeelbeurse het Februarie laer gesluit. In Europa was die Duitse DAX 5.7% laer as in Januarie (-3.7% jaar tot datum) en die CAC in Frankryk was 2.9% laer (+0.2% jaar tot datum). In die VK het die FTSE 100 die maand 4% laer afgesluit (-5.9% jaar tot datum).

In Asië het die Nikkei 225 Indeks Februarie 4.5% laer gesluit (-3.1% jaar tot datum) terwyl die Hang Seng Indeks in China 6.2% laer vir die maand gesluit het (+3.1% jaar tot datum) en die Shanghai Saamgestelde indeks het 6.4% gedaal (-1.4% jaar tot datum). Data toon dat vervaardiging in China tot die laagste vlakke in meer as 18 maande gedaal het. Nywerheidsproduksie was ook laer in Japan en hierdie dalings het markte negatief beïnvloed.

SLIM WENK
HANDHAAF DIVERSIFIKASIE WEG VAN DIE RISIKOS VAN DIE PLAASLIKE MARK

Die rand het sedert Januarie 2016 teen byna al die vernaamste geldeenhede verstewig en in Februarie tot R11.50 teenoor die dollar versterk, vergeleke met die byna R17 tenoor die dollar wat ná afloop van die sogenaamde ‘Nene-skandaal’ van Desember 2015 bereik is. Dit is ʼn verbetering van meer as 30% in twee jaar. Maar dit beteken nie dat beleggers wat geld in die buiteland belê het groter verliese aangeteken het nie (verwys na tabel).

Die skerp styging in die waarde van die rand het nie noordwendig beter resultate vir plaaslike beleggers beteken nie, soos deur baie verwag is. Die rede daar-voor is dat beleggers in internasionale markte beter opbrengste – gemeet in rand – as opbrengste op die JSE verdien het. Die JSE is vir ʼn geruime tyd reeds onder druk weens swak ekonomiese omstandighede, lae verbruikers- en sakevertroue en gebeure soos die verwikkelinge rondom maatskappye soos Steinhoff, Capitec en meer onlangs die Resilient-groep. Oor ʼn tydperk van drie jaar was die gemiddelde opbrengs van beleggings op die JSE slegs 6.4% per jaar, die laagste vir ʼn termyn van drie jaar in baie jare.

Die rand het groot voordel getrek uit ʼn swakker dollar – wat in 2017 ʼn besonder swak jaar beleef het en met 10% teenoor ʼn mandjie van internasionale geldeen-hede verswak het.

PLAASLIKE MARKTE
NUWE PRESIDENT EN BEGROTING OORHEERS NUUS

Die JSE en die plaaslike geldeenheid het in middel-Februarie sterk verstewig ná die bedanking van Jacob Zuma as president en die verkiesing van Cryil Ramaphosa om hom te vervang. Die positiewe atmosfeer wat aan die begin van die jaar ontwikkel het het voortgeduur en die uitdagende begroting soos deur die vorige minister van finansies, Malusi Gigaba, aangekondig was grootliks goed ontvang deur graderingsagentskappe.

Groot skommelinge op internasionale markte het egter teen die einde van die maand markte laer gedruk en die FTSE JSE Indeks van Alle aandele het aan die einde van Februarie 2% laer as Januarie gesluit. Swaargewigte soos British America Tobacco, Naspers en BHP Billiton het danksy die swakker internasionale markte, ʼn sterker rand en swakker kommoditeitspryse onderskeidelik 13%, 7% en 3% laer as in Januarie gesluit. Laer pryse vir hulpbron-aandele het gesorg dat die Resi-10 die maand 4.9% laer gesluit het en die nywerheidsindeks was 3.5% laer vir die maand. Finansiële aandele, wat in Januarie danksy ʼn verslag van Viceroy oor Capitec onder druk was, het beter gevaar en Februarie 5.1% hoër as Januarie gesluit. Die pluimvee-produsent Astral Foods het in Februarie die beste gevaar en die maand op +20.3%afgesluit, gevolg deur die kleinhandelgroep Lewis wat 19.4% hoër gesluit het en Harmony Gold was in die derde plek op +18.8% vir die maand.

Die sterker rand en laer kommoditeitspryse het gesorg dat die aandele wat die swakste gevaar het grootliks hulpbron-aandele was. Pan African Resources was bo-aan die lys en het die maand 48.6% laer afgesluit, gevolg deur Fortress -B op -46.8% vir die maand met Resilient op -43% in die derde plek.

Opgewondenheid oor die verkiesing van Cyril Rama-phosa as leier van die ANC wat sedert laat Desember ontwikkel het, het in Februarie effens bedaar ná die werklikheid van die reuse taak wat voorlê begin insink het. Die rand het Februarie 0.5% sterker afgesluit nadat dit deur die loop van die maand die beste vlak in drie jaar bereik het op R11.52 teenoor die dollar, danksy nuus dat ʼn kabinetskommeling op pad is. Die heraanwysing van Nhlanhla Nene as die minister van finansies en Pravin Gordhan as minister van openbare ondernemings is wyd verwelkom en word beskou as ʼn belangrike komponent van President Ramaphosa se voorneme om die ekonomie beter te bestuur. Daar is wel kommer oor sommige van sy aanstellings in die kabinet, wat as ‘n kompromie-kabinet geag word.

Die verbruikersprysindeks (VPI) het in Januarie tot die laagste vlak sedert Maart 2016 gedaal – af na 4.4% jaar op jaar teenoor die 4.7% wat vir Desember verlede jaar aangekondig is. Produksieprysinflasie (PPI) was ook laer op 5.1% jaar op jaar teenoor die 5.2% van Desember. Die tekort op die handelsbalans het in Januarie tot die hoogste vlak sedert die vroeë 1990s gestyg danksy skerp stygings in invoer en dalings van uitvoer. Die tekort soos aangekondig staan op R27.7 miljard teenoor die oorskot van R15.3 miljard wat in Desember bekend gemaak is.

Die verkope van nuwe voertuie het in Februarie nie goed gevaar nie en die Nasionale Vereniging van Voer-tuigvervaadigers (NAAMSA) het bekend gemaak dat daar dalings in alle voertuigkategorieë was. Volgens Cars.co.za is 46 347 voertuie in Februarie verkoop, 3.8% laer as in Februarie verlede jaar.

Ons volledige verslag oor die 2018 begroting is verlede maand gepubliseer. Lees dit hier: http://bit.ly/2oFZU3R