INTERNASIONALE MARKTE
SPRAKE VAN BELASTINGWYSIGINGS STEUN AMERIKAANSE MARKTE

Amerikaanse markte het ʼn stewige maand beleef in is gesteun deur gesonde verdienstesyfers en President Trump se agenda om die belastingstelsel te hervorm. Kommer oor hoeveel ooreenstemming tussen faksies in die Amerikaanse kongres oor die voorgenome nuwe belastingwet gaan wees en ook die verwagting dat laer maatskappybelasting eers in 2022 van krag sal wees het nie die markte se momentum gestuit nie. Die Dow Jones Nywerheidsindeks het 4.3% vir die maand gestyg (+18.3% jaar tot datum). Indrukwekkende verdienstevertonings deur Amerikaanse tegnolgie- maatskappye soos Alphabet, Intel en Amazon het die Nasdaq na nuwe hoogtepunte gedryf en die indeks het die maand op 3.6% hoër afgesluit (jaar tot datum is die indeks 25% hoër). Die S&P500 het die maand 2.2% hoër agesluit (+15% jaar tot datum).

Die Amerikaanse ekonomiese groeisyfers het verras en is nie veel geraak deur onlangse orkane wat die VSA getref het nie. Voorlopige syfers vir die derde kwartaal van 2017 toon dat die land se ekonomie met 3% jaar op jaar gegroei het teenoor die 2.5% wat in die algemeen verwag is. Alle sektore van die Amerikaanse ekonomie het tot die groeikoers bygedra met stygings in uitvoer en sakebesteding en ook verbruiksbesteding het met ʼn gesonde 3.3% jaar op jaar gestyg.

Positiewe verdienste deur baie maatskappye en gesonde ekonomiese data het Europese aandelebeurse in Oktober gesteun. Die Duitse DAX het die maand 3.1% hoër gesluit (+15.2% jaar tot datum), die Franse CAC was 3.3% hoër vir die maand en staan op +13.2% vir die jaar tot datum. Die Eurosone ekonomiese groeikoers vir die derde kwataal was 0.6%, kwartaal op kwartaal, en was hoër as wat verwag is. Werkloosheid het ook gedaal en is nou op die laagste vlak sedert 2009. In die VK het die FTSE-100 Indeks die maand 1.6% hoër gesluit (+4.9% jaar tot datum), en ekonomiese groei was op 0.4% laer as in die Eurosone.

In Asië het Japan se Nikkei 225 ʼn 21-jaar hoogtepunt bereik en Oktober op 8.1% hoër as in September afgesluit (+15.2% jaar tot datum). In China het markte aan die begin van Oktober op die hoogste vlakke sedert 2016 verhandel maar later in die maand weer terug gesak. Danksy die dalings in die laaste dae het Hong Kong se Hang Seng indeks die maand op +2.5% gesluit (jaar tot datum staan dit op +28.4%) en die Shanghai saamgestelde indeks het die maand 1.3% hoër gesluit, jaar tot datum is hierdie indeks op +9.3 %.

PLAASLIKE MARKTE
MEDIUM TERMYN BEGROTIG OORHEERS NUUS

Die Minister van Finansies, Malusi Gigaba, het markte en Suid-Afrikaners geskok met die volle omvang van SuidAfrika se ekonomiese probleme met die aankondiging van die medium termyn begroting in die Parlement laat in Oktober. Dit is duidelik dat verbruikers gereed moet maak vir selfs moeiliker ekonomiese omstandighede in die toekoms, gegewe die impak van jare van wanbestuur en korrupsie, veral by staatsbeheerde ondernemings.
Die donker prentjie wat Gigaba van die stand van die land se finansies uitgespel het, het die rand tot die swakste vlak in elf maande laat daal, voor dit effens verstewig het om die maand op 4.2% laer teen die dollar af te sluit (jaar tot datum is die plaaslike geldeenheid 2.8% laer). Die graderingsagentskap Moody’s het die begrotig soos deur
Gibaba aangekondig beskryf as ʼn betekenisvolle afwyking van vorige pogings tot fiskale dissipline; wat ʼn negatiewe oordeel van SA se gradering tot gevolg kan hê. Baie kommentators is dit nou eens dat beide Moody’s en S&P hul graderings van SA met hulle volgende aankondigings afwaarts gaan aanpas.

Die saketydskrif Financial Mail het berig dat die begroting duidelik wys dat die Zuma administrasie SA in ʼn fiskale krisis ingewig het en dat as die stand van sake toegelaat word om voort te duur, die land binne ʼn paar jaar in ʼn skuldkrisis gedompel gaan word.
“Die begrotingsdokument wys dat SA nie die huidige vlak van sosiale besteding kan volhou nie en beslis nie nuwe idees soos die Nasionale Gesondheidsorgversekering of gratis hoër onderwys kan bekostig nie as groei nie tot minstens 3% toeneem nie,” het die tydskrif in sy voorbladartikel gesê.

Ondanks die donker ekonomiese prentjie het die FTSE JSE Indeks van Alle aandele tydens die maand nuwe rekord hoogtepunte aangeteken. Alle indekse van die JSE het in Oktober goed gevaar danksy stewiger vertonings deur hulpbronaandele en indrukwekkende stygings deur die randverskanser nywerheidsaandele soos Naspers en Richemont, wat dalings van September afgeskud het. Die Indeks van alle aandele het die maand 6.1% hoër as in
September gesluit (+16.4% jaar tot datum), terwyl die Indi-25, Resi-10, en Fini-15 onderskeidelik met 8.1% vir die maand (+27.3% jaar tot datum), 6.4% maand op maand
(+16.0% jaar tot datum) en 2.1% (+2.3% jaar tot datum) gestyg het. Kommoditeitsaandele (in die besonder platinaaandele), Naspers en sommige eiendomsaandele was van die beste vertoners in Oktober, gesteun deur ʼn swakker rand.

Lonmin het in Oktober die beste gevaar en die maand 55.3% hoër as September gesluit, hoewel van ʼn lae basis. Goeie produksiesyfers (en die swakker rand) het vir Impala
Platinum (+26.5% maand op maand) die tweede plek verseker met Kumba Iron Ore op +23.4% vir die maand in die derde plek. Calgro M3, ʼn genoteerde maatskappy wat op bekostigbare behuising fokus, het in Oktober die swakste gevaar en die maand 20.4% laer as in September afgesluit. Ascendis Health was in die tweede plek en het 13.4% laer as in September gesluit gevolg deur Famous Brands, 12.6% laer vir die maand.

Wat ekonomiese data betref – die inflasiesyfer vir September het op 5.1% gesluit teenoor 4.8% in Augustus, hoër as wat verwag was. Die handelsoorskot het in September op R4 miljard gesluit teenoor die R6 miljard wat in Augustus bekend gemaak is. Jaar tot datum staan die handelsbalans op ʼn oorskot van R47.12 miljard teenoor die tekort van R6.6 miljard wat vir die ooreenstemmende tydperk van 2016 bekend gemaak is.

Die werkloosheidsyfer was stabiel op 27.7% vir die derde agtereenvolgende kwartaal maar is steeds op die hoogste vlakke vir die afgelope 14 jaar. Die koerant Business Times het die week ná die aankondiging van die syfers berig dat die arbeidsmark in SA ʼn uwe era betree en dat daar in die toekoms minder werksgeleenthede gaan wees, selfs al word sterker ekonomiese groei aangeteken. ʼn Skuif na ʼn dienste-gebaseerde ekonomie – ʼn internasionale tendens – gaan nie die antwoord wees vir die land se werkloosheidprobleme nie. Ons betree nou ʼn nuwe era,” aldus die koerant se berig. Die sterkste groei in
indiensneming was in die finansiële dienste en ander sakedienste sektore waar 68 000 werknemers in die kwartaal aangestel is. Sowat 50 000 werkgeleenthede in vervaardiging het verlore gegaan, 30 000 in die konstruksiebedryf en sowat 25 000 in landbou.

Die verkope van nuwe voertuie het vir die vyfde agtereenvolgende maand gestyg en meer as 51 000 eenhede is verkoop. Volgens die syfers van die Nasionale Vereniging van Motorvervaardigers van SA (Naamsa) is 51 037 eenhede in Oktober verkoop, ʼn styging van 2 255 eenhede of 4.6% teenoor die 48 782 voertuie wat in Oktober verlede jaar verkoop is. Uitvoerverkope op 28 229 voertuie was 2 544 minder as die 30 773 voertuie wat in Oktober
2016 uitgevoer is. Die mark vir nuwe motors vaar steeds goed en 35 316 is in Oktober verkoop, 2 594 meer (+7.9%) teenoor die 32 722 nuwe motors wat in Oktober 2016 verkoop is. Sowat 26% van die nuwe motors wat in Oktober verkoop is is deur die motorverhuringsbedryf aangekoop.