INTERNASIONALE MARKTE
MARKTE SONDER RIGTING NÁ AFLOOP VAN VERKIESING IN AMERIKA

Aandelemarkte van ontwikkelde lande het grootliks stewiger pryse in November aangeteken en daar was veral in Amerika lopies ná die verrassende oorwinning van Donald Trump as aangewese President. Dit blyk dat die stygings gedryf is deur Trump se veldtogbeloftes van meer sakevriendelike beleid, laer korporatiewe belasting en groter besteding aan infrastruktuur. Ontleders meen dit sal ekonomiese groei steun en dit was van die redes waarom beleg-gers aan ontwikkelende lande onttrek het en die dollar verstewig het.

Verskeie Amerikaanse indekse het in November nuwe hoogtepunte aangeteken. Die Dow Jones Nywer-heidsindeks het 5.4% hoër gesluit, die beste vertoning vir een maand sedert Maart en die indeks het ook vir die eerste keer ooit deur die 19 000 kerf gebreek. Die S&P Indeks het met 3.4% vir die maand gestyg en die Nasdaq was aan die einde van November 2.6% hoër, die beste maand sedert Julie.

Wat ekonomiese syfers betref is goeie inflasiesyfers en indiensnemingsdata bekend gemaak terwyl die Reuters/Michigan verbruikersvertroue indeks verlede maand tot die hoogste vlak sedert Junie gestyg get. Kleinhandelsyfers het in Oktober gestyg, die beste vertoning in twee jaar. Die hoër kleinhandelsyfers het die verwagtinge dat die Federale Reserweraad (Fed) in Desember ʼn rentekoersverhoging gaan aankondig, gesteun.

In die VK, het die Minister van Finansies, Philip Hammond in sy herfsverklaring gesê die land gaan in 2017 teen ʼn laer koers as voorheen verwag groei danksy die ’Brexit’ stem. In Europa is aangedui dat die Europese gebied besig is om te herstel en dat werkloosheid besig is om te daal.

Die FTSE 100 Indeks het November 2.5% laer gesluit terwyl die Duiste DAX 0.2% laer was vir die maand en die Franse CAC 1.5% hoër. China se Shanghai Saamges-telde indeks het in November met 4.8% gestyg teenoor Oktober terwyl die Hang Seng 0.6% laer gesluit het. Die amptelike syfers vir vervaardigingsbedrywighede in China was vir die tweede agtereenvolgende maand hoër. In Japan het die Nikkei 225 Indeks die beste vlak vir tien maande in November aangeteken en het die yen op die laaste vlak vir agt maande teen die Amerikaanse dollar gesluit.

PLAASLIKE MARKTE
SKOMMELINGE DUUR VOORT VIR GELDEENHEID EN MARKTE

Besluite deur graderingagentskappe en vergaderings van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) het in November die grootste impak op markte gehad. Die rand het in die laaste dae van November die beste vertoning in byna een maand gehad, net om weer te verswak. Die stewiger vertoning was danksy die besluit van senior lede van die ANC wat ‘n mosie aan die NUK voorgelê het dat President Zuma moet bedank en nadat gradering- agentskappe Fitch en Moody’s besluit het om SA nie tot rommelstatus af te gradeer nie. Fitch het sy siening betreffende vooruitsigte van stabiel na negatief aangepas en gewaarsku dat voortslepende politieke onstabiliteit verdere afgradering tot gevolg sal bring terwyl Moody’s gesê het dat politieke binnegevegte, lae ekonomiese groei en werkloosheid die grootste risikofaktore is. Ná afloop van die NUK vergadering (met die President steeds in sy pos) en sterker tekens dat rentekoerse in Amerika verhoog gaan word is die rand weer swakker gedruk en dit het die einde van die maand 4.2% laer as in Oktober teen die dollar afgesluit. Vir die jaar tot datum is die rand 9.1% sterker teenoor die dollar.

Die JSE was betreklik rigtingloos in November. Die JSE Indeks vir Alle Aandele het 0.8% laer as in Oktober gesluit (-1.0% vir die jaar tot datum) terwyl hulpbronne opge-flikker het ná die swak vertoning van Oktober. Die Resi-10 het die maand 6.9% sterker as Oktober afgesluit (+31.3% vir die jaar tot datum). Die Indi-25, wat aandele insluit wat in SA en elders genoteer is, was vir die derde agtereenvol-gende maand laer en het November op -4.4% teenoor die vorige maand gesluit (vir die jaar tot datum staan die indeks op -12%). Die Fini-25 het in November beter gevaar ná die dalings van Oktober en was +1.2% beter teenoor die vorige maand (jaar tot datum 4% laer).

Assore en Grindrod het in November die beste vertonings op die JSE aangeteken en albei aandele het 25.1% hoër as in Oktober gesluit. Barloworld het ook goed vertoon en was 22.4% hoër teenoor Oktober, terwyl die konstruksiemaatskappy Murray & Roberts se aandeel die maand op +21.9% afgesluit het. Die sprong in die aandeel-prys van Assore was te wyte aan ‘n sterk lopie in die prys van ystererts; in November alleen het die prys met 26% gestyg. Assore het ʼn 50% belang in Assmang, wat saam met ander ystererts aandele soos Kumba (+21.5% vir die maand) deur die sterkter prys van $80/ton gesteun is. Die prys is nou op vlakke soortgelyk aan vroeg verlede jaar. Die lopie in die prys van ystererts en ander metale was danksy die hoop dat die volgende Amerikaanse President Donald Trump sy veldtogbelofte van ʼn $500 miljard beleg-ging in die opgradering van infrastruktuur gestand gaan doen. Murray & Roberts se aandeelprys het gestyg ná dit aangekondig is dat die Gauteng provinsiale regering ingestem het om R1.3 miljard aan die maatskappy te betaal vir uitstaande Gautrein rekenings.

Business Day het berig dat ʼn ooreenkoms bereik is tussen die provinsiale regering en Bombela (Murray & Roberts besit ʼn aandeel van 33% in dié maatsappy) waarvolgens R980m binne vyf dae ná die sluiting van die ooreenkoms betaal sal word en tot R294 miljoen oor ʼn tydperk van twee jaar.

Die kleinhandelaar Choppies Enterprises het die swakste vertoning vir die maand gehad en 28.6% laer as in Oktober gesluit. Danksy swakker ekonomiese omstan-dighede was die maatskappy se jaarsyfers nie te watwon-ders nie. Laer goud en platinapryse (vir die maand 7.8% laer in dollar terme) het die mynbouprodusente van dié metale negatief beïnvloed. Harmony Gold het die swakste gevaar in hierdie sektor en die maatskappy se aandeelprys was 23.2% laer as einde Oktober. Dit was ondanks die feit dat Harmony goeie produksieresultate vir die drie maande tot einde September aangeteken het, die hoogste produk-sie-inkomste ooit op R5.25 miljard aangekondig het en ook 10% meer goud as in die vorige kwartaal geproduseer het.

Die laer goudprys het ook die aandeelprys van Sibanye Gold afgedruk en die maatskappy het in November in die derde plek afgesluit op die lys van die swakste vertonings. Sibanye was 18.6% laer as aan die einde van Oktober terwyl Impala Platinum 18.5% laer was. ʼn Aankondiging betreffende handelsyfers vir Woolworths toon duidelik dat die swakker ekonomiese omstandighede ook hierdie kleinhandelaar se ietwat meer welvarende klante raak en die aandeel het die maand 16.9% laer as in Oktober gesluit.

Wat ekonomiese data betref is daar in Oktober ʼn handelstekort aangeteken teennoor die verrassende oorskot in September en beide verbruikersprys- en produksieprysinflasie het in Oktober sterker as verwag toegeneem. Die SA Reserwebank se monetêre beleidskomitee het soos algemeen verwag is die rente-koers onveranderd gehou. Die moeilike omstandighede in die motorbedryf duur voort en ʼn daling van 9.6% in die aantal nuwe motors verkoop is vir November aangekon-dig vergeleke met November verlede jaar. Volgens die Nasionale Vereniging van Voertuigvervaardigers (Naamsa) is handelstoestande vir die bedryf, met die uitsondering van ligte handelsvoertuie, uiters uitdagend. Die syfers vir uitvoerverkope was een ligpunt en daar word algemeen verwag dat ʼn nuwe rekord vir die jaar aangeteken sal word. ʼn Totaal van 31 508 voertuie vir uitvoer is verkoop teenoor 28 113 in November 2015, ʼn styging van 21.1%.

Damvlakke styg stadig maar seker in verskeie provinsies ná gereelde reënval maar owerhede maan steeds dat water uiters spaarsaming gebruik moet word. Swaar reën en vloede in verskeie dele is deur hittegolftoestande gevolg wat druk op watervoorsiening plaas.

DIE KANTORE VAN BRENTHURST WEALTH SAL VANAF MAANDAG 19 DESEMBER 2016 TOT DINSDAG 3 JANUARIE 2017 GESLUIT WEES. DIE BRENTHURST ADVISEURS KAN TYDENS HIERDIE TYDPERK VIR DRINGENDE SAKE PER EPOS GEKONTAK WORD.

Geseënde Kersfees en alles wat mooi is vir 2017, mag al julle wense waar word, en mag die jaar wat voorlê, net goeie dinge inhou.