INTERNASIONALE MARKTE
AMERIKAANSE RENTEKOERS BESLUIT EN AMERIKAANSE VERKIESING DRYF MARKSENTIMENT

Internasionale markte het ʼn wisselvallige Oktober beleef en sentiment is deur die tydsberekening van ʼn moontlike rentekoersverhoging in die VSA, die Amerikaanse presidentsverkiesing en ʼn verswakking van die pond oorheers. Amerikaanse markte het heelwat skommelinge ervaar teen die einde van die maand ná die nuus bekend geword het dat die FBI nog eposse gekoppel aan presidensiële kandidaat Hillary Clinton se gebruik van private rekenaarstelsels terwyl sy die Minister van Buitelandse Sake was ondersoek. Kommer het ontstaan dat dit die kanse groter sal maak dat Donald Trump gaan wen.

Wat die ekonomie betref het die Amerikaanse ekonomie beter as verwag gevaar in die derde kwartaal van 2016 en ʼn groeikoers van 2.9% is aangeteken. Die Instituut vir Aanbodbestuur se jongste vervaardigingsindeks het September op 51.1 afgesluit ná die laagste syfer in sewe maande van 49.4 wat in Augustus aangeteken is. Ameri-kaanse indiensnemingsyfers was ook positief, wat die waarskylikheid van ʼn rentekoersverhoging in Desember steun.

In Europa het markte ook nie te waffers gevaar nie ná die swakste kleinhandelsyfers in twee jaar in Duitsland bekend gemaak is en effektemarkte ʼn besonder moeilike maand beleef het. Internasionale sentiment is nie besonder positief nie in afwagting op aankondigings deur die Bank van Engeland, die Amerikaanse Federale Reserweraad en die Bank van Japan.

In die VSA het die Nasdaq Saamgestelde indeks Oktober 2.3% laer as in September afgesluit, die S&P500 was 1.9% laer en die Down Jones het Oktober 0.9% laer afgesluit. Die FTSE 100 Indeks was aan die einde van Oktober 0.8% hoër, die DAX in Duitsland 1.5% hoër en die Franse CAC 1.4% hoër. China se Shanghai Saamgestelde Indeks het die daling van 2.6% in September uitgewis en die maand op +3.2% afgesluit terwyl die Hang Seng 1.6% gedaal het ná dit vir drie maande gestyg het. Hoewel data uit China toon dat uitvoere skerp gedaal het en kommer onstaan het oor die wêreld se tweede grootste ekonomie, het ʼn beter as verwagte inflasiesyfer van die kommer verlig. In Japan het die Nikkei die maand op +5.9% afgesluit.

PLAASLIKE MARKTE
POLITIEKE GEBEURE PLAAS MARKTE ONDER DRUK

Oktober was ʼn besige maand in Suid-Afrika met verskeie politieke verwikkelinge wat media-berigte oorheers het en ook die aankondiging van die tussentydse begroting. Die Nasionale Vervol-gingsgesag (NVG) het die Minister van Finansies, Prav-in Gordhan, gedagvaar om op aanklagte van bedrog in die hof te verskyn, wat wyd as polities gemotiveerd beskou is. Die NVG het op die laaste dag van die maand besluit om die aanklagte te laat vaar, wat dadelik die geldeenheid gesteun het en goeie lopies is aangeteken. Die rand het die maand 1.6% hoër afgesluit en is vir die jaar tot datum 12.8% sterker teen die dollar. Die jongste ontwikkeling en die Minister se begrotingsrede het die hoop laat opvlam dat graderingsagentskappe S&P Global Ratings, Fitch en Moody’s nie die land sal afgradeer nie. Ontleders het gewaarsku dat hierdie optimisme nie noodwending geregverdig is nie aangesien SA se ekonomiese situasie nie beduidend verbeter het nie en ook omdat die begroting geen noemenswaardige positiewe vuurwerke opgelewer het nie.

Die JSE Indeks vir Alle aandele het die maand 2.6% laer as aan einde September afgesluit (-0.2% vir die jaar tot datum). Druk op kommoditeitspryse, in die besonder goud en platinum, het hulpbron-aandele afgedruk en die Resi-10 het die maand 3.8% laer afgesluit (+22.9% jaar tot datum). Die Indi-25, wat verskeie sogenaamde randverskansingaandele insluit asook ‘n hele paar wat ook in die VK genoteer is, het vir die tweede agter-eenvolgende maand laer gesluit op -3.1% teenoor die vorige maand (jaar tot datum -7.9%). Finansiële aande-le het weens die drama rondom die Minister van Finansies swaar gekry en die Fini-15 het die maand 1.8% laer afgesluit nadat dit in September ietwat verstewig het (jaar tot datum -5.1%).

Die aandele wat in Oktober die beste gevaar het was Net 1 UEPS Technologies wat die maand 23.7% hoër af-gesluit het teenoor September en Assore wat op +22.9% gesluit het. In die derde plek was Trustco Group Hold-ings (+18.4%) en in vierdie plek Exxaro Resources (+17.2%). Die aandele wat in Oktober die swakste gevar het was Sibanye Gold (-25.7%), Impala Platinum (-22%), Royal Bafokeng Platinum (-20%), Brait SE (-18.9%) en Anglogold Ashanti (-18.5%). Vir die jaar tot datum vaar Kumba Iron Ore die beste (+231.7%), gevolg deur Assore (+193.8%), Anglo American PLC (+168.7%), Harmony Gold Mining (+163.5%) en Exxaro Resources (+125.2%).

Op ekonomiese front gaan dit nie waffers nie en die plaaslike ekonomie gaan na verwagting vanjaar teen die swakste koers sedert die internasionale resessie van 2009 groei. In sy begrotingsrede het die Minister van Finansies sy groeiverwagtinge vir die ekonomie afwaarts aangepas na 0.5% van die vorige syfer van 0.9%. Die VPI het in September tot 6.1% gestyg. Positiewe nuus was dat die handelsbalans onverwags positief gedraai het tot ʼn oorskot van R6.7 miljard in September teenoor die tekort van R8.9 miljard in Augustus.

Die moeilike ekonomiese omstandihede is ook duidelik in die aantal likwidasies. Business Day het berig dat die totale aantal maatskappye wat gelikwideer is in September met 15.4% tot 172 gestyg het teenoor September 2015. Voertuigverkope daal steeds en was in Oktober jaar-op-jaar 10.1% laer op 48 745. Totale voertuigverkope was gemiddeld 39 707 van 1994 tot 2016. Die beste verkope van alle tye is in Augustus 2006 aangeteken toe 65 689 voertuie verkoop is. Die swakste was 18 482 voertuie wat in September 1994 verkoop is.

Huispryse het in Oktober vir die sesde agtereenvolgende maand teen ʼn veel stadiger tempo gegroei, die laagste koers in vyf jaar. Volgens die FNB Huispry-sindeks het huispryse landwyd met net 2.4% toegeneem teenoor ʼn jaar gelede, wat beteken dat groei in huispryse nou reeds vir ʼn geruime tyd laer as inflasie is. FNB se John Loos sê die laagste groei is in kleiner provinsies en dorpe aangeteken waar mynbou en landbou die grootste werkskeppers is. In groter stede is die groei in huispryse gemiddeld 4%.

Hoewel groot dele van SA aan die einde van Oktober hittegolf toestande ervaar het en nuusberigte oor watertekorte en damvlakke daagliks gepubliseer word, berig Reuters dat plaaslike boere van plan is om 25% meer hektaar mielies vir die seisoen te plant met die hoop dat behoorlike reënval die moeilike omstandighede sal verlig wat deur die erge droogte van verlede jaar geskep is. SA was vir jare ʼn netto uitvoerder van graan maar danksy die droogte van die 2015-16 seisoen het die land ʼn netto invoerder geword. “Nog ʼn swak mielie-oes sal ernstige gevolge vir Afrika se mees geindustrialiseerde ekonomie veroorsaak aangesien mielies ʼn belangrike stapelvoedsel is en pryse verlede jaar verdubbel het en inflasie aangeblaas het,” is in Reuters se verslag berig.