PLAASLIKE MARKTE
Ongelukkig het 29 Februarie, die ekstra handelsdag van die skrikkeljaar, geen positiewe impak op plaaslike markte gehad nie aangesien die meeste in die rooi gesluit het as gevolg van verliese gely deur banke en aandele in die finansiële sektor. Die JSE Indeks van Alle Aandele Indeks het marginaal gedaal om op 49 415.31 te sluit (0.6% hoër vir die maand) en vir die jaar tot op datum is die JSE ALSI af met 2.5%. Die JSE Finansiële en Industriële Indeks (FNDI), wat ongeveer 82% van die JSE ALSI uitmaak, is al sedert Maart 2009 die dryfveer agter ’n JSE-bulmark, terwyl die hulpbronindeks in ’n aggressiewe beermark is sedert 2011. Die FNDI-indeks verhandel tans op dieselfde vlak as ’n jaar gelede. Dit het van November tot Januarie ongeveer 13% gedaal en op grafieke/volgens statistieke lyk dit asof ’n bodem/laagtepunt bereik is. Statistieke laat dit lyk asof die Finansiële Indeks, wat met 22% geval het tydens die Nene-debakel en steeds 17% laer is as April 2015 se hoogtepunt, gereed maak vir herstel. Daar bestaan egter nog geen sekerheid hieroor nie.

Mark en ekonomiese nuus vir Februarie is ongetwyfeld oorheers deur afwagting op Minister van Finansies, Pravin Gordhan, se begrotingsrede op 24 Februarie. Na die onstuimigheid rakende die ministeriële posisie einde verlede jaar, het Gordhan sy eerste begrotingsrede, na sy terugkeer ’n skamele twee maande gelede, relatief kalm en knap hanteer. Dít te midde van verwagtinge oor belastingverhogings en kostebesnoeiings in die heersende moeilike ekonomiese klimaat in Suid-Afrika. Die minister het beklemtoon dat die regering verbind is daartoe om die gaping tussen spandering en inkomste te verklein en dat die implementasie van ’n plan vir sterker ekonomiese groei en samewerking tussen regering en die besigheidsektor aandag geniet. Die enkele belangrike en bemoedigende aankondiging in die begroting is dat daar beoog word om die openbare sektor se massiewe loonuitgawes met R50 miljard te besnoei oor die volgende drie jaar. Die probleem is egter dat die regering laer besoldigingsbedrae sal moet instel om dit geloofwaardig vir die mark te maak. Een interessante toevoeging tot die begrotingsrede vanjaar was die bekendstelling van ‘n “suiker belasting” op alle suiker-versoete drankies, soortgelyk aan ander sondebelasting op sigarette en alkohol. Dit is onlangs berig dat ‘n belasting van 20% op soet drankies, ‘n geraamde R7 miljard in bykomende inkomste elke jaar beteken, maar kritiek op die nuwe belasting sluit die feit dat hierdie onbillik sou diskrimineer teen arm gemeenskappe en sal nie noodwendig ‘n positiewe impak op vetsug vlakke in SA hê nie.

Nie almal is egter oortuig dat die 2016-begroting die ekonomiese posisie van Suid-Afrika sal versterk nie en die rand het onmiddellik na die publikasie van Gordhan se begroting verswak van R15.23 tot R15.58 teen die Amerikaanse Dollar. Sommige kommentators meen egter dat die swakker rand nie net veroorsaak is deur Gordhan se toespraak nie, maar dat Moody se besluit was om Brasillië se soewereine gradering af te gradeer tot ‘junk’ status ’n groter rol gespeel het omdat dit ’n onheilspellende teken kan wees dat Suid-Afrika volgende is. Alhoewel dit klinkklaar is dat die Minister sy uiterste bes gaan probeer om die huidige beleggingsgradering te behou, is ekonome en kundiges nie heeltemal oortuig dat genoeg gedoen is om ’n afgradering in Junie van hierdie jaar af te weer nie.

Een van die hooffaktore wat bydra tot die rand se afwaartse vertoning is swak produktiwiteitstendense in vergelyking met belangrike handelsvennote en mededingers. ’n Tweede belangrike faktor is die land se Netto Internasionale Beleggingsituasie, andersins bekend as die opgehoopte huidige rekeningposisie, wat die netto bedrag geld is wat in of uit die land vloei. Globale kommoditeitspryse is die derde belangrike faktor wat die rand affekteer. ’n Kombinasie van hierdie faktore het gelei tot die ZAR se drastiese waardeafname, maar analiste meen dat die rand steeds duur is teen ’n oorevaluasie van 8%. Aangesien die rand tradisioneel swaar trek nadat diep afslag bereik is, sal dit vir beleggers wees veilig wees om aan te neem dat verdere verswakking van die rand op ons wag gebaseer op die grondbeginsels rondom die waardasie van die geldeenheid.

Die 30% daling van die rand teen die Amerikaanse doller oor die afgelope jaar – die 14% ineenstorting sedert Desember verlede jaar ingesluit – het die land tot op die drumpel van ’n ressessie geneem. Met ’n verwagte ekonomiese groei van slegs 0.9% hierdie jaar, lyk vooruitsigte vir groei die bleekste sedert 1997. Die swakker vooruitsig is ’n resultaat van laer kommoditeitspryse, hoër uitleenkoerse, verminderde besigheids- en verbruikersvertroue en die droogte. As gevolg van die lae groeiverwagtings en stygende skuldvlakke, is die internasionale graderingsagentskappe op die uitkyk vir enige teken dat die land nie sy skuldverpligtinge kan nakom nie.

Dit lyk dus of die regering meer tegemoetkomend is ten opsigte van die bevordering van samewerkende belegging in kapitaalprojekte, verbetering van beleidsekerheid, vermindering van regulatoriese struikelblokke vir besighede en die instelling van regulatoriese hervorming – byvoorbeeld rakende arbeidswetgewing. Staatsbeheerde ondernemings wat in ’n stadium groei-instrumente was, is nie meer heilige koeie nie; politiese debat hieroor duur egter voort. Terwyl die regering hulle blykbaar verbind het aan Eskom, Transnet en SAA (met R14.4 miljard in regeringswaarborge mag die lugredery eenvoudig nie misluk nie), moet klein en mediumgrootte entiteite verkoop of stilweg toegemaak word.

Alhoewel dit nou al soos ou nuus mag klink, het die impak van die ergste droogte, in langer as ’n eeu, steeds ’n baie negatiewe impak op die ekonomie. Gemeenskappe wat ly onder die droogte bly ’n reuseprobleem. Die droogte veroorsaak ’n massiewe afname in Suid-Afrikaanse boerdery uitsette en benadeel die vervaardigingsektor. As gevolg hiervan is het die kontinent se tweede grootste ekonomie groei van slegs 0.6% in die vierde kwartaal getoon. Dit het die Minister van Finansies, Pravin Gordhan, genoop om sy voorspelling vir 2016 se BBP met die helfte te verminder tot 0.9%. Die droogte het ’n negatiewe impak op werkverskaffing en ook industriële uitsette en vererger die reeds hoë regeringskuld. Dit kan veroorsaak dat kredietgraderingsmaatskappye, insluitend Standard en Poor’s, Suid-Afrika se skuld kan afgradeer tot naby aan junk-status. Die sentrale bank, Internasionale Monetêre Fonds en die Wêreldbank voorspel almal groei van minder as 1% vir die jaar. Volgens die Wêreldbank benodig Suid-Afrika jaarlikse groei van 7.2% vanaf 2018 om die regering se doelwitte te bereik om werkloosheid tot 6% teen 2030 te verminder. Die werkloosheidskoers was 24.5% in die vierde kwartaal.

’n Tendens wat almal verbaas het met die skerp styging daarvan, is die Goudaandele wat die laaste ruk uitgeblink het. Die JSE-goudindeks het sover in 2016 met ’n massiewe 93% gestyg om die hoogste vlak in drie jaar te bereik. Die grafieke lyk soos trappe na die hemel: Aan die einde van 2015 was Harmony se aandeelprys R15.60, maar dit het opgeskiet tot R52 hierdie week (1 Maart), nadat die prys maar R8 ’n aandeel in November verlede jaar was.

In vergelyking hiermee was die platinumindeks maar besadig en is tot dusver net 38% hoër in 2016 (teenoor die 93% vir die Goudindeks). Anglo Platinum met 76% op vir hierdie jaar tot dusver en bereik vandag nog ’n hoogtepunt vir die jaar, maar Impala Platinum oefen tot dusver ’n negatiewe invloed op die indeks uit met ’n styging van slegs 28% in 2016. Amplats maak 32% van die Platinumindeks uit en Impala 31.9%. Analiste raak egter nie opgewonde oor hierdie aandeelpryse nie en glo dat hierdie hulpbronwinste die gevolg is van ’n regstelling na oorverkoopte vlakke en dat dit nie wins in die langtermyn voorspel nie. Om hierdie rede sal aankope op hierdie vlakke heel moontlik nie aanbeveel word nie.

Eiendomsnuus: die afgelope maand is ’n skokkende uitspraak in die Appèlhof gemaak wat daartoe kan lei dat eiendomseienaars verantwoordelik gehou kan word vir reuse bedrae munisipale skuld vir tot dertig jaar nadat vorige eienaars dit aangegaan het. Voordat iemand ’n oordrag kan registreer moet aan die registrateur bewys gelewer word van ’n akteklaring uitgereik deur die munisipaliteit. Volgens Bobby Bertrand’s se eiendomsprokureur en direkteur, Bowman Gilfillan, het die Appèlhof verlede maand bepaal dat nuwe eienaars van eiendom aanspreeklik gehou kan word vir historiese skulde wat tot drie dekades terug dateer. Gilfillan sê dat soos die wet nou daar uitsien, is ’n verkoper slegs aanspreeklik vir skuld wat oor die afgelope twee jaar aangegaan is vir elektrisiteit, water en ander dienste, en 30 jaar vir belasting in terme van artikel 118 van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels ten einde ’n klaringsertifikaat te verkry. Die saak gaan nou na die Konstitusionele Hof, maar sou dit in werking tree kan dit die SA-eiendomsmark op ’n ramp laat afstuur en ons kan maar net bespiegel oor die potensiële negatiewe gevolge wat dit op die ekonomie in die geheel kan hê.

INTERNASIONALE MARKTE

Die grootse wêreldnuus is moontlik dat, as ’n laaste poging om die groei van die wêreld se tweede grootste ekonomie op koers te hou, die Chinese sentrale bank die persentasie van fondse wat banke eenkant hou as reserwes, verlaag het. Die People’s Bank of China, die sentrale bank, het gesê dat dit die sogenaamde reserwevereisteratio met 0.50 persentasiepunte sou sny. Hierdie nuus het veroorsaak dat die VK en Asiatiese markte hoër verhandel het, meestal aangespoor deur vooruitgang van kommoditeitsverhandelende aandele / verhoogde verhandeling van kommoditeitsaandele. Die VK se FTSE100 het effens verbeter en op 6 097 gesluit. Die vervaardigingsdatalesings in China (PMI), wat af is met 49.0, dui op ’n afname in aanvraag wat kan verduidelik waarom die Chinese regering besluit het om die vorige dag banke se vereiste reserweratio (RRR) te verminder met 50 basispunte.

’n Interessante brokkie inligting: dit is maar die 18de keer in die geskiedenis van die S&P 500 dat 29 Februarie (skrikkeldag) op ’n ope markdag val. Selfs al beteken dit dat daar ’n ekstra handelsdag is, was dit nie in die verlede voordelig vir aandelemarkte nie. Soos in die verlede, het Amerikaanse markte in Februarie 2016 ook negatief geëindig nadat verhandeling gedurende die laaste gedeelte van Februarie onder druk was. Die S&P 500-indeks het met 0.8% gedaal tot op 1932.23, wat die derde agtereenvolgende maand is dat die S&P in die rooi sluit. Die Dow Jones Industriële Gemiddelde Indeks het 0.7% verloor en op 16 516.50 gesluit, terwyl die NASDAQ ook met 0.7% daal om op 4557.95 te sluit. Bank- en gesondheid-aandele het gelei tot ’n afname in die mark, wat baie ongewoon is na die +3% styging van die olieprys. Dit is moontlik omdat markte onder druk was as gevolg van kommer oor die verlangsaming van die wêreldwye ekonomie, maar die Amerikaanse mark het ook nie die positiewe aspekte in berekening gebring nie.

Interessant genoeg, in teenstelling met tradisioneel negatiewe markresultate op skrikkeldag self, is skrikkeljare oor die algemeen geneig om goed te wees vir aandeelmarkte. ’n Moontlike rede hiervoor is omdat dit saamval met verkiesingsjare wanneer aandeelmarkte gewoonlik positiewe opbrengste toon. Ons voorsien dat dit hierdie jaar weer waar sal wees in Amerika, veral omdat die nasionale verkiesing plaasvind en moontlik ook op ’n kleiner skaal hier in SA, met die munisipale verkiesings wat later vanjaar plaasvind.

Die Amerikaanse verbruiker word ondersteun deur ’n goeie indiensnemingsbeleid, lae rentekoerse wat skuldkonsolidasie en die delging van verbande bevoordeel en lae energiepryse, wat brandstof- en verhittingskoste verlaag. Omdat verbruikers tweederdes van die ekonomie uitmaak, sal hierdie maatreëls hulle in staat stel om meer geld tot hulle beskikking te hê om te spandeer op nuwe motors, meubels, vakansies en vermaak. Die stewige data wat verlede week vrygestel is, dui daarop dat die Amerikaanse ekonomie bo verwagting herstel, wat ook verwagtinge skep dat die Federale Reserwebank rentekoerse later in die jaar sal verhoog.

In die Eurosone, waar pryse aanhou val, word die dreigende deflasie in die geldeenheidblok al meer van ’n werklikheid en dit sal heel moontlik op 10 Maart nog ’n ronde van beleidsverligting van die Europese Sentrale Bank noodsaak. Verbruikersbesteding is so te sê die enigste groeienjin en vaar relatief goed, maar ’n verskeidenheid opnames toon swak besigheidsentiment en swak PMI-data wat ’n teken is dat die geldeenheid met sy 19 groepslede toenemend swaarkry as gevolg van die verlangsaming van ontluikende markte. Gekombineer met swak sentiment en uitsetdata dui die somber inflasiesyfers daarop dat die Eurosone se flou groei moontlik nog flouer gaan word. Dit laat oproepe vir fiskale en monetêre beleidsaksie opklink ten einde ’n ekonomie te ondersteun wat weer sal moet groei om op dieselfde vlak te kom waar dit voor die krisis was.