FEBRUARIE 2016

PLAASLIKE MARKTE

Die JSE Indeks van Alle Aandele versterk in die laaste week van Januarie 2016 met 3% en sluit op 49,141.94 – ’n ongelooflike herstel aan die einde van ’n veelbewoë maand vir plaaslike en wêreldmarkte. Almal is maar te bewus daarvan dat die Suid-Afrikaanse ekonomie aansienlik onderpresteer, maar swak ekonomieë, stadige groei en onbestendige geldeenhede blyk ’n algemene tendens in ontwikkelende en ontluikende markte te wees. Terwyl Suid-Afrikaanse verbruikers nog steier onder die gevolge van die Minister van Finansies-debakel in Desember, moet hulle nou boonop ’n 50 basispunt rentekoersverhoging en die gevolge van die huidige droogte absorbeer.

Die paniek het gelei tot buitengewone uitvloei van kapitaal. Die rand verswak met 10% en bereik ’n rekordlaagtepunt teen die Amerikaanse dollar en die koste van staatskuld verhoog. Tans is daar gerugte dat die regering moontlik die IMF sal moet nader vir ’n lening om die land deur die dreigende finansiële krisis te dra. Dit is egter net spekulasie.

Tydens die eerste vergadering van 2016, besluit die monetêre beleidskomitee (MPC) om rentekoerse met 50 basispunte te verhoog tot 6.75%. Die besluit was nie eenparig nie, omdat sommige lede ’n 25-basispuntverhoging voorgestel het en ander weer wou hê dat rentekoerse onveranderd gelaat word. Die meeste lede van die MPC se siening was egter dat dit nodig is om die rentekoerse te verhoog as gevolg van die agteruitgang van die inflasievooruitsigte. Die MPC voer behoorlik ’n eierdans uit om inflasie in bedwang te hou aan die een kant en ’n resessie af te weer aan die ander kant.

Chaos het in Desember verlede jaar in plaaslike markte geheers nadat president Jacob Zuma die Minister van Finansies, Nhlanhla Nene, onverwags afgedank het en die onervare en onbekende David van Rooyen aangestel het. Na hewige nasionale protes, het die president egter vinnig van plan verander en weer ’n vorige Minister van Finansies, Pravin Gordhan, aangestel. Die skade is egter reeds aangerig.

Dit lyk asof die wisselkoers elke jaar verder agteruitgaan en ekonome glo dit is ’n gevolg van die SARB se rentekoersbeleid wat nie met groeivooruitsigte strook nie. In die afgelope twintig jaar kon meer as 85% van die inflasiepatrone in verband gebring word met periodieke wisselkoerskrisisse en dit is dus nie die gevolg van die oorverhitting van die ekonomie nie.

Suid-Afrika gaan gebuk onder die ergste droogte in ’n honderd jaar. Oeste is geruïneer en dit kan die ekonomie in ’n resessie dompel. As gevolg van dié vernietigende droogte sal slegs 7.44 miljoen ton mielie in 2016 geoes kan word; dit is 25% minder as die 9.94 miljoen ton wat verlede jaar geoes is. Volgens die Oesskattingskomitee sal dit die kleinste oes wees sedert 2007.

Die aansienlike afwaartse risiko as gevolg van die droogte se impak, die swak vooruitsigte van die mynbedryf en die kommer dat monetêre beleid, deur rentekoerse te verhoog in swak ekonomiese groeitoestande, toenemend druk sal uitoefen op plaaslike aanvraag, laat die meerderheid ekonome tot die slotsom kom dat Suid-Afrika heel moontlik gedurende die jaar ’n resessie sal binnegaan.

“Die buitensporig aggressiewe standpunt wat die SARB inneem ten einde finansiële stabiliteit te bereik, is uit voeling met globale monetêre beleid, sowel as ekonomiese omstandighede in SA wat bydra tot die verlangsaming in ekonomiese groei, onderdrukte besigheids- en verbruikersvertroue en verhoogde werkloosheid in die privaatsektor,” sê Annabel Bishop, hoofekonoom by Investec.

Die rand bereik rekordlaagtepunte gedurende die feesgety met ’n wisselkoers van byna R18 teenoor die Amerikaanse dollar, wat natuurlik slegte nuus was vir Suid-Afrikaners wat gedurende daardie tyd oorsee gereis het. Die Economist’s Big Mac Index vir 2016 wys hoe swak die rand geword het – en hoe dié geldeenheid teoreties steeds een van die mees “ondergewaardeerde” geldeenhede ter wêreld is.

Mike Schüssler, hoofekonoom by Economist.co.za sê: “Suid-Afrika kan gewoonlik nie resessies vermy wanneer die kommoditeitspryse daal nie, en dit is ’n feit dat ander kommoditeitsproduserende ontluikende markte soos Brasilië en Rusland swaar resessies beleef. Ons sal nie naastenby so ’n ernstige resessie hê soos daardie twee lande nie, omdat ons ietwat meer gediversifiseer is, maar ons het rentekoersverhogings gehad in ’n swak ekonomiese groeiomgewing, en dit is onwaarskynlik dat ons ’n resessie sal kan vermy.”

In ’n poging om die beste van ’n slegte situasie te maak, het die JSE in Desember termynkontrakte vir beesvleiskarkasse geloods wat kopers en verkopers in die industrie toelaat om hul posisies te verskans, en spekuleerders die kans gee om prysveranderinge van Suid-Afrikaanse beesvleis dop te hou. Hierdie termynkontrakte stel beesvleisprodusente in staat om hulself te verskans teen prysdalings deur ’n minimumprys vas te stel waarvoor hulle uitbetaal sal word wanneer die kontrak verval. Aan die ander kant kan die kontrakte voedselkleinhandelaars beskerm wat die lang verskansingsperiode kan gebruik om skielike prysstygings teen te werk deur die kontantaanpassings van afgehandelde kontrakte te gebruik. Dit voorsien ’n mate van stabiliteit te midde van onseker tye aan partye in die industrie wanneer hulle hul finansiële beplanning vir die jaar doen.

Suid-Afrika is die wêreld se grootste platinumproduseerder, maar in die afgelope agt jaar het hierdie metaal se waarde met amper 70% gedaal en heel moontlik gaan hierdie tendens voortduur. Gedurende 2008 tydens die wêreldwye finansiële krisis is platinumproduseerders verder geknou deur ’n vyfmaandelange industriële staking wat die industrie R24 miljoen gekos het. Om alles te kroon was daar boonop ’n verlangsaming in die aanvraag vanuit China, die grootste platinumverbruiker. Alhoewel hierdie wêreldwye faktore ’n groot rol gespeel het in die produksieafname, het platinummaatskappye ook slegte besluite geneem wat bygedra het tot die agteruitgang van die industrie bv. om groot bedrae geld te leen toe die platinumprys net aan die toeneem was. Die 4%-verhoging in die platinumprys gedurende die laaste week van Januarie is ’n klein baken van hoop vir hierdie sukkelende industrie.

Gedurende die afgelope dekade toon die Genoteerde Eiendomme-sektor in SA uitstekende opbrengste, en dit bereik ’n hoogtepunt in 2015 met ’n oorvloed nuwe noterings. Maar as gevolg van ’n wêreldwye afverkoping van genoteerde eiendom tesame met vrese dat rentekoerse kan styg met tot 150 basispunte oor die volgende 12 maande, het die sektor sedert Oktober verlede jaar met byna 14% verswak. Die moontlikheid van ’n afwaartse kredietgradering vir SA kan ook ’n impak hê op die eiendomsektor, maar nie so negatief as wat ’n mens mag dink nie. Eiendomsaandele verhandel teen relatief goeie vooruitverdienste-opbrengste en volgens sommige ontleders is daar definitief op hierdie stadium plek vir ’n eiendomsbeleggingstrust (REIT) in ’n beleggersportefeulje. Die Suid-Afrikaanse R186-staatseffek betaalbaar oor 11/12 jaar het weer skerp gedaal met 18 basispunte sedert Vrydagoggend tot 9,19%.

Ekonomiese probleme kan ook vererger weens die verlies aan beleggersvertroue in president Jacob Zuma, wat moontlik sosiale en rassespanning sal aanvuur voor die plaaslike verkiesings hierdie jaar. Die president sal die staatsrede op 11 Februarie lewer.

Watertekorte vererger boonop terwyl Suid-Afrika deurloop onder die ergste droogte in dekades. Dit bedreig die uitbreiding van myne en fabrieke in Kwazulu-Natal en het ’n nadelige invloed op groot industriële name soos Tongaat Hulett, Mondi, BHP Billiton, Foskor, Richards Bay Minerals en Tronox Fairbreeze-myn onder andere. Water is nie meer net ’n kosbare kommoditeit nie; in die gebiede wat die ergste geraak word deur die droogte word dit nou ook ’n al groter uitgawe vir industrieë en sal dit bydra tot verhoogde produksiekostes – ’n groot rede tot kommer vir die industriële sowel as die landbousektor.
In ’n poging om hul ekonomie ’n hupstoot te gee en inflasie te verhoog het die Bank van Japan negatiewe rentekoerse ingestel wat banke ontmoedig om by hulle te belê. Dit lei tot goeie winste in wêreld aandelemarkte in die laaste week van Januarie sodat markte Vrydag positief sluit ten spyte van die slegste maand aan die begin van die jaar sedert 2009. Die S&P 500 indeks klim met 2,5% om af te sluit op 1 940,24 terwyl die Dow Jones Industrial Average-indeks styg met 2,5% en sluit op 16 466,30. Die NASDAQ is 2,4% hoër op 4 613,95. Europa behaal +2,2% en Londen se FTSE 100 +2,6%.

Die Amerikaanse 10-jaar staatseffek verswak met nog drie basispunte tot onder 2% en staan op 1,92% – die laagste punt in die afgelope tyd – nadat die Fed rentekoerse onveranderd gelaat het. Duitsland se 10-jaar staatseffek is ook af met 8 basispunte op 0,32%; ook die laagste punt vir die afgelope ruk.

’n Faktor wat tot voordeel gestrek het van wêreldmarkte gedurende die laaste week van Januarie was hoofsaaklik die styging van oliepryse as gevolg van gerugte dat die Organisasie van Petroleum Uitvoerlande (OPEC) ’n buitengewone vergadering gaan byeenroep om produksiebesnoeiing te bespreek. Die prys van Brent ru-olie het in Januarie tot $26 ’n vat gedaal voordat dit gedurende die laaste week tot $34 per vat gestyg het. Alhoewel die afname in die olieprys skommelinge in wêreldaandele veroorsaak het, is sommige ontleders van mening dat laer oliepryse tot voordeel is van die wêreldekonomie en wêreldwye groeivooruitsigte.

INTERNASIONALE MARKTE

Ten spyte van gesonde winste gedurende die afgelope week, het wêreldmarkte Januarie steeds aansienlik laer afgesluit. China se Shanghai Saamgestelde Indeks is onder die groot indekse die “grootste verloorder” van die maand met ’n 22% daling in dollarterme. Die ekonomiese verlangsaming in China en ontluikende markte bly ’n groot bekommernis vir wêreldmarkte.

In onsekere ekonomiese tye soos hierdie, met swak plaaslike markprestasie, ‘n sukkelende Suid-Afrikaanse ekonomie en ons rand wat uit die lug val, sou dit nie wonderlik vir beleggers wees om ‘n kapitale gewaarborgde rand verskansings produk te hê nie?

Investec Corporate and Institutional Banking (CIB) het onlangs ‘n opwindende nuwe produk vrygestel; ‘n aanbod van aandele in die China see Basket Limited, waar die aanvangs beleggings- bedrag ten volle bewaar word. Die aanbod sluit op 3 Maart 2016, so indien u belangstel in hierdie unieke beleggingsgeleentheid, moet asseblief nie huiwer om u Brenthurst finansiële adviseur te kontak nie.

Bronne:
“The Weekly Focus” Market and Economic Review Paul Hansen, Stanlib, 1 February 2016
“From the Desk” Anchor Capital, 1 February 2016.   / www.moneyweb.co.za    / The Sunday Times